Free Calendar by Brolmo.com   tuis - jongste nuus

Sportrooster, K2     |    Klasposisies K1, 2017 

 
 
Geplaas op 24 April 2017,11:32 
 

Geagte Ouers

Die waarde vir die week is Toewyding. Baie dankie aan ons jeugwerker, mnr Andrew Viljoen, wat die waarde tydens vanoggend se saalbyeenkoms behandel het.

Mnr le Roux, mev Peceur en mej de Villiers was die afgelope naweek in Bloemfontein waar hulle Angus Buchan se gebedsbyeenkoms bygewoon het. Welkom terug!

Mev Marietjie Nel is met bronchitis in die plaaslike hospitaal opgeneem. U voorbidding word opreg waardeer. Mev van Tonder sal volgende week terug op haar pos wees. Interne reëlings met betrekking tot die Afrikaanse klas is in plek.

'n Paar datums vir die week:

  • 24 April: Senior Taalbondeksamen
  • 25 April: Kannaland Netbalproewe, HSL
  • 25 April: Kannaland o-16 en o-19 Rugby vs. Oakdale, wegwedstryd

Geniet die kort week!

Geplaas op 21 April 2017, 9:02 
   

Graag bedank ons die ouers wat gisteraand se SBL-tussenverkiesing bygewoon het. Janine Ruiters en Janice Makriga is tot die beheerliggaam verkies. Baie geluk en sterkte met die taak!

Mev Annalize Nel, ons veerpytljie-yster, is onlangs in die Oudtshoorn Assosiasie span asook die Eden span opgeneem. Hulle gaan binnekort aan die SA's deelneem. Haar prestasie is inderdaad 'n veer in ons hoed - baie geluk!

Belangrike kennisgewing: die skool verdaag komende Maandag om 13:00. 'n Hele paar opvoeders moet vergaderings bywoon en moet die skool vroeër verlaat. Tref asseblief u reëlings dienooreenkomstig.

Geplaas op 19 April 2017, 8:39 
   

Geagte Ouers

Welkom terug! Ons vertrou u het 'n aangename tyd saam met u kind(ers) beleef. Ons sien uit na 'n bedrywige tweede kwartaal propvol geleenthede en aktiwiteite. Graag bring ons die volgende onder u aandag:

  • Mev Carina Olivier het verlede kwartaal afgetree. Mev Heimie van Wyk is die nuwe Besigheidstudie- en LO-Opvoeder. Juffrou van Wyk het geen bekendstelling nodig nie. Die Hoërskool is bevoorreg om haar in hul midde teverwelkom!

  • Mnr Andrew Davids is as die Laerskool se nuwe departementshoof aangestel. Baie welkom, mnr Davids! Mnr Davids is 'n bekende gesig in Kannaland en ons skool gaan verseker by sy ervaring baat vind.

  • Ons verwelkom graag me Roxanne Griebelaar! Me Griebelaar het in die verlede by die skool geproef en is vertroud met ons prosedures. Me Griebelaar is by graad 4, 5, 7 en 8 betrokke. Sterkte aan u!

  • Voorts het mev Annalise Nel, mev Linda Radyn en mev Ina De Wit gedurende die vakansie verjaar. Baie geluk, dames! God se rykste seën word jul toegebid.
   

Ons herinner u vriendelik aan die SBL-tussenverkiesing wat môre-aand om 19:00 in die skoolsaal plaasvind. Vervoer na en vanaf die skool sal beskikbaar wees. Die optelpunte is as volg, vanaf 18:00:

  • Zoar - Protea Park
  • Sakkiesbaai - By afdraai vanaf R62 na Sakkiesbaai
  • Nissenville - Gemeenskapsaal

Ons doen 'n beroep op u om hierdie uiters belangrike vergadering by te woon.

   

NB: alle berigte wat tydens die eerste kwartaal verskyn het, kan deur middel van die argief besigtig word. Die argief verskyn links onder op die webtuiste.

Die sportrooster vir die tweede kwartaal is verlede kwartaal op die webtuiste geplaas. Kliek op die betrokke skakel bo-aan die bladsy om 'n *.pdf-lêer daarvan af te laai. Alternatiewelik kan u hier kliek.

Die Kannaland Hoërskool Netbalproewe vind môre-middag om 15:00 by die skool plaas.

Mag u 'n suksesvolle en geseënde kwartaal saam met die skool en u kind ervaar. Ons hou op hoogte van datums, wedstryde, uitslae ensovoorts.

Groete,
HSL

     
  skoolleuse  
  Ons leuse is Excelsior, 'n Latynse woord. Dit beteken om altyd hoër te streef en om jouself voortdurend te verbeter. Die leuse is soortgelyk aan die Latynse woorde semper altior - altyd hoër.
 
  nss-uitblinkers, 2016
 

Die volgende leerders het uitstekend tydens die afgelope Nasionale Senior-Sertifikaat eksamen presteer. Ons is waarlik trots op hulle!

Marcel Simpson - 7 Onderskeidings (7 vakke)

  Marcel het die eksamen met 'n gemiddelde persentasie van 89% geslaag en het in alle vakke uitgeblink. Sy is deurgaans tydens haar loopbaan in die VOO-Fase met Akademiese Erekleure beloon.

Sy studeer tans Medies aan die Universiteit van Stellenbosch.

Alecia Lourens - 6 Onderskeidings (7 vakke)
  Alecia het die eksamen met 'n gemiddelde persentasie van 83% geslaag. Sy is deurgaans tydens haar loopbaan in die VOO-Fase met Akademiese Erekleure beloon.

Sy studeer tans B.Com Digitale Bemarking aan die Prestige Academy in Bellville.
 
  verfraaiingsprojek - foto's

Bootstrap Slider
 
  argief  


Kwartaal 1, 2017

 
   
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017  |  hosting deur webafrica   
hsladismith@gmail.com geskiedenis van die skool