nuus - kwartaal 1, 2018
Geplaas op 4 Maart 2018, 12:11  
 

Ouer-Opvoeder Sosiale Aand

Op Donderdag, 1 Maart, het 'n groot groep HSL-ouers die skool vir 'n "meet-and-greet" besoek. Klaskamers is besoek en ouers kon met die leerders se opvoeders in gesprek tree. Ná die tyd is daar by die LO-saal vir 'n bring-en-braai byeen gekom. Die skool se springkasteel het die kleinspan uit die kwaad gehou en juffrou Roné en Roxanne het 'n paar skaakmanne aangedurf. Die atmosfeer was gelaai met positiwiteit, luide gelag en natuurlik geure so reg uit Gordon Ramsey se kombuis. Die aand was werklik heerlik en ons is baie dank aan verál mnr Crafford verskuldig. Mag volgende jaar se funksie selfs meer ouers lok - dit is 'n besliste MOET!

 
   
 

Little Men and Women

Woensdag, 28 Februarie, het die Grondslagfase opvoeders verlede jaar se Little Men inisiatief met die kleintjies herhaal - vanjaar is die dogters egter ingesluit. Die dag het met 'n praatjie deur mev Janine Baadjies en haar span van maatskaplike dienste afgeskop. Deur middel van 'n kort opvoering is die leerders van boeliegedrag bewus gemaak. Die boodskap dat die leerders (a) nie moet stilbly nie en (b) vir mekaar moet opkom, het duidelik na vore gekom.

Hierna is die leerders op 'n busrit met komplimente van mnr George Bell, Evan en Anja Bell se vader, geneem. Ons weet nie of dit die dreuning van die diesel-engin of die hoogte vanaf die grond was nie, maar die kinders het skoon gekraai van lekkerkry!

Die dag is afgesluit met 'n Steers burger op die gholfbaan. Baie dankie aan die GF-opvoeders sowel as mnr Davids wat die dag moontlik gemaak het! Dankie ook aan mnr Bell en mev Baadjies en haar span vir hul moeite met ons leerders!

 
 
Geplaas op 27 Februarie 2018, 17:08  
 

Imagine-groep lê besoek af

Vier lede van die Christelike jeuggroep, Imagine, het die graad 7 tot 11 leerders vanoggend besoek. Daar word jaarliks 'n jeugkamp deur Imagine gehou - vanjaar s'n vind op 6 tot 8 April by Bredasdorp plaas. Twee oud-leerders, Alecia Lourens en Nelia Coetzee het die kamp by 'n vorige geleentheid bygewoon en hulle het die ervaring ongelooflik baie geniet.

Die vier leiers het promosie vir die kamp gedoen, 'n kort video van hul bedrywighede getoon en daarna afgesluit deur 'n gebed vir die skool en die leerders te doen. Baie dankie aan mnr Jacques le Roux wat die geleentheid moontlik gemaak het! Ons moedig die leerders aan om dit sterk te oorweeg om die kamp mee te maak.

 
 
Geplaas op 26 Februarie 2018, 20:05  
 

Geagte Ouers en Vriende

Die week se waarde is Kommunikasie. Mnr Le Roux was vir vanoggend se saal verantwoordelik en sy begrip asook oordrag van die waarde was uitstekend. Die powerpoint wat mnr Le Roux gebruik het asook sy boodskap sal binnekort op die webtuiste verskyn. Ons deel vervolgens die volgende gebeure met u.

Vasbyt-stap

Twee leeders, Conray Arnolds en Marceline Willemse het die afgelope naweek aan 'n 35km vasbyt-stap deelgeneem. Uit ongeveer 75 deelnemers was Conray 10de en Marceline 12de. Pragtig, leerders!

 
 

Eden-Atletiek: Hoërskole

Die jaarlikse streeksbyeenkoms het die naweek in Oudtshoorn plaasgevind. Ten spyte van nat toestande het die byeenkoms voortgegaan. Die volgende atlete het HSL verteenwoordig: Gabbi Pheiffer (100m, VS), Lushanté April, Sarie Roodtman, Eunice Booysen, La-Rochelle Anta (almal GS), Rendille Botha, Leonardo Rooi, Edward Bothman (almal 100m en 200m) en Duvan Delport (400m). Die kompetisie was vanjaar selfs sterker as in 2017 - tewens, uitslae wat sekere atlete reeds vir die SA Kampioenskappe laat kwalifiseer het, is behaal. Tog het ons atlete deurgaans tot die einde volhard, in die geval van Duvan, selfs met 'n knaende dyspier-besering. Ons is baie trots op elkeen van julle - dit is nie maklik om teen SA-atlete te kompeteer nie. Welgedaan! Dankie aan mnr Dekker wat die logistieke hanteer en die atlete vergesel het.

 
 

Stellenbosch Opedag

'n Hele paar matrieks is die afgelope naweek na die Universiteit van Stellenbosch se opedag. Voornemende studente kry die geleentheid om verskillende fakulteite te besoek asook om met dosente en ander studente te kommunikeer. Die groep het ook in 'n paar oud-leerders vasgeloop: Marno Simpson, Carl Rothman en Jamie-lee Roodman. Hulle het voorts 'n paar koshuise besoek.

Die leerders is deur juffrou Roné, 'n oud-Matie, asook Alicia Blignaut se moeder vergesel. Almal is dit eens dat Stellenbosch propvol geleenthede is. En dat dit heeltemal moontlik is om binne die JS Gericke biblioteek te verdwaal! Ons bedank graag juf Roné, mev Blignaut sowel as alle rolspelers wat die geleetheid moontlik gemaak het - dit was deur en deur die moeite werd!

 
   
Leeders op die Rooi Plein, naby die JS Gericke Biblioteek
   
Is ons Hoofmeisie oppad Monica toe?
 

Ubuntu-Besoek

Op Vrydag, 23 Februarie, het mnr Tom Johnson, een van die Ubuntu-projekleiers, sy eerste besoek vir 2018 by die skool afgelê. Mnr Johnson is 'n ou bekende en het gekom om die nuwe VRL te ontmoet en die grondslag vir 2018 te lê. Ons wens die VRL sterkte toe met die taak om die leerders van Ubuntu bewus te maak. Baie dankie ook aan mnr Johnson vir die besoek!

 
Geneem in VOO-lokaal, HSLDS
Geplaas op 19 Februarie 2018, 16:13  
 

Geagte Ouers en Vriende

Welkom by week 6. Die toetsreeks kruip al hoe nader - ons begin reeds op 12 Maart. Baie harde werk lê voor en ons doen 'n beroep op u om u kind(ers) te motiveer. Maak asseblief seker dat hulle daagliks hul tuiswerk getrou doen.

 
  Die waarde vir die week is Integriteit. Me Wilna Jonathan het die saalbyeenkoms waargeneem en met stories uit haar lewe die waarde puik hanteer. Dankie!

Tydens die byeenkoms het die leerders besoek van mnr Siegfried Weisse ontvang. Mnr Weisse is oorspronklik van Duitsland en woon sedert 1963 in Suid-Afrika. Hy het sy passie vir omgewingsgesondheid met ons kom deel. Dat ons die euwels van rommelstrooi beter sal besef.
Ons is lede van die Ladismith-gemeenskap soos mnr Weisse ewig dankbaar vir hul onuitblusbare passie vir dit waarin hulle glo. Besoek sy facebook-profiel hier.
 

Eden Atletiek: Laerskool

Die afgelope naweek het vyf atlete aan die jaarlikse byeenkoms deelgeneem. Ongelukkig het ons nie vanjaar 'n laerskool-atleet in die span wat binnekort aan die Wes-Kaap kampioenskappe gaan deelneem nie. Juhané Slump het 'n heel skaflike afstand van 7.5m gestoot en Lisa Steyn net so oor die 6m. Dit is steeds baie goed - julle kan jul koppe hoog hou. Ons is baie trots op julle - julle het immers die streekspan gehaal!

 
 

Kleinspan Atletiek: Heidelberg

Agt atlete het verlede naweek op Heidelberg gaan deelneem. Die oudste ouderdom wat hier deelneem, is O-9. Ons kinders het hulself oortref en die volgende puik uitslae is behaal:

  • Drie eerste plekke
  • Nege tweede plekke
  • Vyf derde plekke
  • Drie vierde plekke

Op die dag het ons 'n algehele tweede plek uit vyf skole behaal. Whanté Jaftha was ons beste presteerder met twee goue medaljes. Die spangees-beker gaan vanjaar aan die ouers - vat so! Baie geluk, kinders! Ons bedank ook graag ons Grondslagfase-personeel wat die leerders gebrei en vergesel het.

   
Geplaas op 14 Februarie 2018, 16:06  
 

Geagte Ouers en Vriende

Mnr Elie verjaar vandag! Mag Meneer se dag asook nuwe lewensjaar met bodemlose blessings van Bo geseën wees. Baie geluk!

Soos in die verlede was die VRL vir die dag se sosiale aktiwiteite verantwoordelik. Eerstens kon die leerders vandag gewone klere aantrek, mits dit die tradisionele kleure van Valentynsdag weerspieël. Kaartjies van geheime bewonderaars is uitgedeel, musiek is tydens pouses gespeel en 'n Meneer en Juffrou Valentyn is aangewys. Daardie eer val vanjaar Leonardo Stefaans en Courtney Peceur te beurt - baie geluk!

Die pret eindig egter nie vandag nie. Môre-aand (15 Feb 2018) bied die VRL 'n Valentynsdans in die LO-saal aan. Die drag is semi-formeel, die tyd is 18:30 tot 21:30 en jy, leerder van HSL, is baie welkom! Asseblief: geen leerders van ander skole word toegelaat nie - hierdie is vir ONS kinders.

 
 

Eden Atletiek: Laerskool en Hoërskool Atlete

Die volgende laerskool-atlete is in die Kannalandspan wat hierdie komende Saterdag aan die Eden (die ou SWD) Byeenkoms in Oudtshoorn deelneem, opgeneem: Juané Slump, Lisa Steyn, Jani van Tonder, Saskia Hendricks en Mersinley Makriga. Al vyf neem aan gewigstoot deel. Baie geluk en sterkte!

Die volgende hoërskool-atlete is in die Kannalandspan wat op Saterdag 24 Februaie aan die Eden Byeenkoms in Oudtshoorn deelneem, opgeneem. Die seuns, wat almal aan naellope deelneem, is Edward Bothman, Duvan Delport, Rendille Botha, Leonardo Rooi en Leonardo Stefaans. Die meisies, wat almal, met die uitsondering van Gabbi Pheiffer (100m, VS) aan gewigstoot deelneem, is Lushanté April, Sarie Roodtman, Eunice Booysen, La-Rochelle Anta, Kylie Uithaler, Janalize Jelander en Kimberley Blignaut. Baie geluk en gee jul bes!

 
 

Laerskool Leierskapkamp

Verlede Vrydag, 9 Februarie, het die laerskool-VRL bymekaar gekom om hul jaar te beplan en oor leierskap asook ander onderwerpe te gesels. Hulle is deur mnre Davids en Crafford asook juffrou Radyn bygestaan. Baie dankie vir jul insette en opoffering. Leerders, mag jul jaar hoogs suksesvol wees.

 
 

Conquering Conquesta

Ons graad 5-klas van 2017 het onder die Top 20 skole vir die Conquesta Olimpiade in Afrikaans geëindig - ons het 'n 18de plek losgeslaan. Pragtig! Prestasies soos die kom nie vanself nie - dit verg ure se werk en voorbereiding. Dus: juffrou Radyn, baie dankie en baie geluk! En hier: die bewys:

 
       
Geplaas op 13 Februarie 2018, 18:04  
 

Geagte Ouers

Hartlik welkom by week 5 - die tyd vlieg sowaar vinniger as koshuiskinders wat vir aandete aanmeld. Die afgelope week was weereens baie besig en ons berig graag daaroor. Voor ons daarby kom: die week se waarde is Eerlikheid. Graag bedank ons me Marveline Galant, Jaiden Roos (Graad 10) en Rudi Edwardes (Graad 9) wat die saalgodsdiens behartig het.

 
 

Hoërskool VRL-Kamp

Vanjaar se kamp het op Jongensfontein plaasgevind. Ons het Vrydag, 9 Feb om 15:30 vertrek en met die aankomslag begin om kamp op te slaan. Later die aand het ons vuur opgesteek, wors gebraai, die reëls van die kamp behandel, godsdiens gehou en omstreeks 22:30 gaan slaap. Later het dit liggies begin reën, maar niemand het enigsins dáároor gekla nie!

 

  Saterdagoggend is met ontbyt en skriflesing en gebed afgeskop. Daarná het die kamp-aktiwiteite in alle erns begin.  

Lesings oor hoe om in sekere situasies op te tree het die leerders laat besef dat 'n VRL-lid baie verantwoordelikhede het en dat dit nie altyd 'n maklike taak is nie. Ons het verál na boelie-gedrag en die gepaste optrede in verskillende situasies gekyk. Diefstal, kru taal, kinders wat baklei, afkyk tydens toetse ens. is breedvoerig behandel.

Daarná het elke lid 'n waarde ontvang en moes praat oor wat die waarde vir hom/haar beteken. Hierna het ons na terreinbestuur gekyk en wat die VRL se pligte verál tydens pouses is. 'n Rapporteringstelsel is bespreek om sodoende ook die VRL te beskerm.

Na afhandeling van hierdie gewigte sake, het die leerders 30 minute gekry om hul jaarbeplanning te doen en met die skool s'n te laat strook. Die kampleiers het die idees geëvalueer en die leerders verder van raad voorsien. Nadat alle take vir die oggend afgehandel is, het ons na Stilbaai se strand gery.

   
 

Daar aangekom het die wind 'n paar planne van haar eie gehad. Dit het die beplande strand-aktiwiteite effe in die wiele gery, maar kon nie ons entoesiasme wegwaai nie. 'n Gat grawe kompetisie is gehou om te sien wie die grootste gat in die kortste tyd kon grou. Op die ou end het almal sommer gelyk in die grootste gat gespring en hom nog dieper gedelf. Daarnį is daar gekyk wie met een sprong reg bo-oor kon seil. Party het die woord "seil" egter met "ploeg" verwar en kon na die tyd breedvoerig oor die smaak van sand uitbrei. Alles was egter besonders baie pret!

 
   
  Daarna is die branders aangedurf. Mnr Dekker het 'n snaakse gilletjie gegee toe hy die water voel, maar, weskusklong wat hy is, het hy vinnig sy kiewe teruggekry. Ons het van seestrome geleer en eerstehands ervaar hoe sterk die water naby die kus kan vloei. Charl het sy bes probeer om die oseaan leeg te drink - ons vermoed hy nies nou nog plankton.  
  Saterdagaand is daar vuur gemaak, marshmallows gebraai, langs die strand gestap en sommer net lekker ontspan. Sondagoggend net voor 10am het ons huiswaarts gekeer, maar nie sonder om 'n roomys by KFC te nuttig nie. Die VRL is dit eens: die kamp was fantásties! Baie dankie aan mnr Dekker en mev Schultz wat die reëlings getref en mooi na ons omgesien het.  
  Skaak

Twee HSL-leerders, Zeenan Moli en Conray Arnolds is, tesame met Mario Huisamen en Sarie Roodtman, in die Kannaland-span opgeneem. Zeenan en Conray het die afgelope naweek in Calitzdorp deelgeneem terwyl Mario en Sarie die span op 'n vroeër geleentheid gehaal het. Baie, baie geluk - ons hou jul vordering met belangstelling dop! Groot waardering vir juffrou Griebelaar wat die leerders vergesel het.
 
  Veerpyltjies

Hierdie sportsoort raak stadig maar seker meer gewild onder die leerders. Die afgelope naweek is twee leerders, John-Dee Freeman en Denilson Oosthuizen deur juffrou Nel na die eerste van drie Eden-proewe te George vergesel. Die volgende proewe is 24 Februarie in Oudtshoorn. Ons hou styf duimvas - die uitslae word einde Maart bekend gemaak. Dankie, juffrou Nel!
 
 

Afsterwe van Mishka Kiewiet se oupa

Mishka se oupa is die afgelope naweek oorlede. Ons wil hiermee graag ons medelye aan die gesin betoon. Mag jul vertroosting in hierdie hartseer tyd vind. Liewe Jesus se blombedding is verseker een blom ryker.

 
  Die drama van Jaiden Roos  
  Jaiden is 'n gebore akteur en is sedert verlede jaar by die skool se dramaklub betrokke. Van inhibisies is daar by hom geen sprake nie - 'n baie welkome vaardigheid in drama!

Hy het onlangs 'n dramagroep van 17 lede gestig. Hulle reis die komende naweek na Goodwood, Kaapstad om daar by die New Apostolic Young Youth People Venue op te tree.

Alle sterkte aan julle - mag dit 'n leersame asook aangename ervaring wees!
  Soet Graad 3's

By HSL word 'n uiters hoë premie op goeie dissipline geplaas. Dit is dus aangenaam om drie graad 3 leerders vir hul puik gedrag uit te sonder: Mario Grispe, Judith Februarie en Frans Uithaler. Juffrou Lize-Marie noem hulle haar Super Ster Wenners. Pragtig, outjies! Julle verdien die chokkie deur en deur!
   
 

Van ons almal by die skool: mag u 'n aangename week en naweek geniet. Onthou om 1 Maart op u kalender te omkring - dit is die sosiale aand waar u u kind se klasonderwyser kan ontmoet en na die tyd 'n ietsie saam met die opvoeders kan braai. Die kalender bevat ook 'n paar nuwe datums - kyk gerus.

Groete,
HSL

 
Geplaas op 6 Februarie 2018, 17:55  
 

Geagte Ouers

Die eerste kwartaal is volstoom aan die gang - we really hit the ground running! Dit is aangenaam om die volgende nuus met u te deel.

Die waarde vir die week is Diversiteit, wat natuurlik 'n tipiese kenmerk van die Suid-Afrikaanse samelewing is.

Aldricht Makriga, VRL-Voorsitter en Hoofseun van 2017, het die godsdiensbeurt Maandagoggend waargeneem en het die waarde op sy eiesoortige manier met die leerders behandel. Hy is deur sy broer, wat die begeleiding behartig het, bygestaan.

Baie dankie vir jul bereidwilligheid om steeds by HSL betrokke te wees - ons stel dit hoog op prys. Sterkte ook vir die pad vorentoe!

   
 

Kluster-Atletiek 2018

Die afgelope naweek het 30 HSL-leerders aan die jaarlikse Kannaland byeenkoms deelgeneem. Vanjaar was die venue Calitzdorp, maar HSL was vir die reëlings verantwoordelik.

Dit was 'n baie warm dag, 'n faktor wat moontlik daartoe bygedra het dat daar nie vanjaar uitsonderlike prestasies op die baan behaal is nie. Wat die veld betref, was daar 'n paar gewigstoters van HSL, verál Juhané Slump, Lisa Steyn en Jani van Tonder, wat 700+ punte op die ASA-tabel behaal het. 'n Paar van ons naellopers, verál atlete soos Gabbi Pheiffer, Rendill Botha en Leonardo Stefaans sal op grond van prestasies vroeër die seisoen die span haal. Ons sal die atlete wat vir die Eden-byeenkoms in Oudtshoorn kwalifiseer eersdaags bekend maak.

Ons bedank graag die volgende beamptes wat hul Saterdag opgeoffer het: mnr JD Willemse, mej Roxanne Griebelaar, mev Annalise Nel, mej Andrea Job en mej Roné de Villiers. 'n Groot blyk van waardering gaan aan mnr Jean Dekker wat die reëlings getref het en vir meeste van die tegniese aspekte verantwoordelik was.

 
 

Kleure-Atletiek 2018

Die kleure-atletiek het reeds binne die tweede akademiese skoolweek plaasgevind. Vanjaar is die veld-items op ons rugbyveld aangebied terwyl die baan-items na die landbougenootskap se veld by Shalom geskuif het. Die optogte is ook by Shalom gehou. Vanweë 'n kortsluiting tydens die baan-items het mnr Dekker se rekenaar gebreek en kon die ASA-uitslae nie uitgelees word nie. Alles kon gelukkig oor die naweek herstel word en kon die wenners van die optog sowel as die spanskild bepaal word. Vanjaar se wenners in beide kategorieë is GEEL! Baie geluk, ouens! Baie dankie aan die personeel van HSL vir al die reëlings asook Karel en Sipho wat 'n klomp toerusting na Shalom vervoer het.

 
   

Dux-Funksie

Jaarliks word die toppresteerders in die verskillende kringe by 'n spesiale funksie vereer. Hierdeur gee die WKOD erkenning aan leerders se volgehoue harde werk dwarsdeur hul skoolloopbaan. Ons Dux-leerder vir 2017 is Jodene Willemse. Op 20 Januarie 2018 is sy deur HSL se waarnemende adjunk-hoof, mnr Andrew Davids asook sy vrou, mev Gail Davids, na George vergesel.

Baie geluk, Jodene! Die swaar premie wat jy deurgaans op uitmuntendheid geplaas het, het SOET vrugte afgewerp! Ons weet jy sal 'n groot sukses van jou toekoms maak!

 
 

Drie leerkragte groet, vier sluit aan

Drie leerkragte wat tot en met die einde van 2017 by die skool werksaam was, het poste elders aanvaar. Ons het vanjaar van mej Marinda Prinsloo, me Heimi van Wyk en mej Janita Viljoen afskeid geneem. Juffrou Prinsloo het 'n permanente pos in die Kaap aanvaar terwyl juffrou Heimi na WJ le Roux geskuif het. Juffrou Viljoen het 'n pos by Towerkop aanvaar. Ons wens u alle voorspoed toe en baie dankie vir die bydrae wat u tot ons kinders se opvoeding gemaak het!

Die volgende leerkragte het vanjaar by ons aangesluit: mej Andrea Job, mej Faren de Wet, mnr Juandré September en mev Wilma Jonathan. Ons werk reeds lekker as 'n span saam en sien uit na nog vele opvoeders-avonture saam - baie welkom! Ons het pas die personeel-bladsy opgedateer. Daar kan u presies sien wie vir watter vakke en grade verantwoordelik is.

Mevrou Anna-Mari Schultz het ingestem om by Toerisme en Rekeningkunde waar te neem tot tyd en wyl ons 'n meer permanente reëling kan tref. Mev Schultz is tans besig om te studeer so ons waardeer hierdie opoffering ONGELOOFLIK baie! Dankie ook aan haar man, mnr Dietrich Schultz.

 
             
Geplaas op 7 Januarie 2018, 10:20  
 

Werwing vir die Suid-Afrikaanse Militêre Diens

Aan alle leerders wat die 2017 NSS-Eksamen suksesvol voltooi het: die volgende inligting is pas aan ons deurgegee. Dit behels die datums asook basiese vereistes om vir die weermag, vloot of lugmag te kwalifiseer.

SA Army. Applicants must have grade 12 and not be area bound. They must be within the 18 to 22 years age group. Maximum entry age for graduates is 25 years. Applicants should preferably be single. RSA citizenship is mandatory. Applicants must NOT have a criminal record and should comply with the medical standards of the South African National Defense Force (SANDF). Applicants must be prepared to do BMT (Basic Military Training).

 

Closing Date

The closing date for the SANDF, SA Navy and the SA Air Force is 26 Feb 2018. Get your application forms before 26 Feb 2018. Otherwise you have to sign up in 2019.

  You are very welcome to contact our local Recruitment Office on 051 402 1262 or 051 402 1292, where you can speak to Corporal Kgoe. Corporal Kgoe will be able to answer all your questions and assist you with the necessary application documentation.
   
Geplaas op 2 Januarie 2018, 10:01  
 

Voorspoedige Nuwe Jaar!

Aan elke ouer, leerder, vriend van HSL, mnr Elie en die personeel: mag u 'n wonderlike 2018 vol seëninge beleef. Ons het 'n klein video van 2017 saamgestel - laai dit gerus af. Lengte = 02:45; grootte = 32.2MB; formaat = avi.