tuis - jongste nuus

 

 
 
Geplaas op 15 Maart 2019, 06:55 
 

Uit die kantoor

Geagte Ouers

Die tyd het weereens behoorlik gevlieg en ek is daarvan oortuig dat elke leerder, opvoeder en ouer met groot afwagting na die kort April-vakansie uitsien.

Ons is baie trots op al ons leerders wat goed presteer het tydens die twee somer-atletiekbyeenkomstes en skaaktoernooi.

Aan die einde van die kwartaal sê ons totsiens aan twee van ons personeellede. Mnr Jacques le Roux verlaat die skool na sewe en 'n half jaar diens as Graad 10 tot 12 Fisiese Wetenskappe en Graad 7 tot 9 Tegnologie opvoder. Hy het 'n pos by Hoërskool Oakdale aanvaar. Mnr le Roux het 'n groot bydrae by die koshuis gelewer en die lewing van 'n gesonde koshuisomgewing van vele leerders. Sy kwaliteitsmerk op vele ander projekte sal gemis word. Die pos word huidiglik geadverteer.

Ons neem ook afskeid van ons adjunkhoof en Graad 5 klasonderwyser, mnr AH Davids. Mnr Davids was vir twee jaar aan die skool verbonde. Sy toewyding en veelsydigheid is kenmerke wat ons lank sal onthou. Namens die skool wil ons mnr Davids alle geluk en voorspoed toewens met sy aanstelling as hoof van Hoërskool Calitzdorp. Mnr Dawid Crafford sal tydens die tweede kwartaal as adjunkhoof waarneem. Dit is my opregte wens dat hierdie twee leerkragte beloon sal word met 'n gelukkige vertoef in hul nuwe werksomgewing.

Ons wil u graag bedank vir die goeie fondsinsamelingspoging van kwartaal een. Dit het ons in staat gestel om fase een van ons lugreëlaar-projek vir 2019 af te handel en vier lokale met lugreëling toe te rus. Die volgende insameling word vir die vierde kwartaal beplan. Daarna beoog ons om nóg vier lokale met lugversorgers toe te rus. Die somerhitte van Ladismith tap 'n ieder en 'n elk se energie en die leerders sukkel om te konsentreer - lugverkoeling is dus 'n behoefte.

Ons Skool van Uitmuntendheid kan net gehalte diens aan u en u kinders verskaf as die skool optimaal bestuur word. Met genoegsame fondse kan ons ons puik onderwysers vergoed en 'n veilige en aangename skoolgrond vir ons kinders skep.

Ons het twee vakante betrekkings op die SBL en beoog om dit op Dinsdag, 16 April 2019, deur 'n tussenverkiesing te vul. Die skoolbus asook taxi-dienste sal beskikbaar wees om diegene wat vervoer na die skool benodig, te akkommodeer.

Baie dankie vir u ondersteuning aan u kind op akademiese, kulturele en sportgebied. Wat ons ontwikkelingsaksies betref, geniet akademie steeds voorrang. Ons sien uit na die nuwe kwartaal met sy uitdagings en die voorreg om te sien hoe die Hoërskool Ladismith-familie dit hanteer asook gedy!

 
  Die skool heropen op Dinsdag, 2 April 2019, om 08:00, met die saalbyeenkoms. Die dag eindig om 14:00. Vanaf 3 April begin die skool 07:30 en verdaag om 14:00.  
 

Mag u en u gesin die broodnodige ruskansie geniet en wees veilig indien u op reis gaan. Ons sien u volgende kwartaal!

Vriendelike groete,
Mnr SA Elie
Skoolhoof

 
     
Geplaas op 7 Maart 2019, 08:10  

Kaskarresies: Voorskool

Nóg 'n nuutjie op die aktiwiteitslys van HSL: menige kind se droom (asook oorsaak van skrape, snye en liters Mercurochrome en gips) - kaskarre! Op 6 Maart, so skuins na 4pm, het die voorskool 'n kaskarresies vir die kleinspan aangebied. Vele vreemde vlieënde gevaartes het op die rugbyveld saamgedrom om hul staal te toon. Die ouers is dit eens: hierdie moet 'n jaarlikse instelling word! Aan elkeen wat in die pret kom deel het - baie dankie!! Ook baie dankie aan juffrou Swart, juffrou Anthea en haar span, juffrou de Villiers, mnr Crafford en mnr le Roux wat met die reëlings gehelp het.

Heel bo: die eerste deelnemers maak gereed!

Bo: Maya Ellis in die AWESOME-O 2000

Regs: Meshanté Verwey

   
Geplaas op 28 Februarie 2019, 14:08  

Opvoeder/Oueraand

'n Nuwe instelling op HSL se kalender, die jaarlikse opvoeder/oueraand wat verlede jaar gedebuteer het, was vanjaar weereens uiters suksesvol! Die opvoeders en ouers kry die geleentheid om saam te braai en gesellig te verkeer. Die netbal-wedstryde wat tussen die ouers en opvoeders, wel, sékere opvoeders, plaasgevind het, het vir groot vermaak gesorg! Baie dankie aan u wat ons ondersteun en die aand moontlik help maak het. Dankie ook aan mnr Crafford, juffrou Linda, Karel asook die ander opvoeders wat voor en agter die skerms baie betrokke was. Volgende jaar maak ons beslis weer so!

 
Mnr en mev Elie - die son staan nie 'n kans nie, Sir!
Meanwhile on Masterchef Ladismith...
Karel de Kock: die braaier en die draaier
Voorslag Grondslag!
Die manne kan maar braai - ons SIT vanaand!
Twee leerders, drie onnies en een onder-voorsitter van die VRL. Spanwerk!
Geplaas op 27 Februarie 2019, 17:07  
 

Eden-Atletiekbyeenkoms

Die kompetisie by vanjaar se Eden-byeenkoms was, soos te verwagte, besonders sterk. Ongelukkig het geen HSL-atlete vir die Wes-Kaap Kampioenskappe gekwalifiseer nie. Edward Bothman het egter 'n puik vierde plek in die 100m behaal. Ons is steeds baie trots op ons atlete wat wél die Kannaland span gehaal het!

 
     
Geplaas op 28 Februarie 2019, 14:08  

Stellenbosch Opedag

Op Saterdag, 23 Februarie, het juffrou de Villiers en juffrou Johnathan14 matriekleerders na die Universiteit van Stellenbosch se jaarlikse opedag vergesel. Hulle het die kampus so deeglik moontlik verken en besoek by die JS Gericke biblioteek en Neelsie afgelê. Voorts is die volgende opvoedkundige geboue besoek: regte, ingenieurswese, wetenskappe, opvoedkunde asook BA.

Heelwat konsternasie is veroorsaak toe die brand-alarm in die Neelsie skielik begin loei het! Dit was gelukkig nie een van ons leerders wat die kampus probeer ontwrig het nie - dit was stof van bouwerk wat die sensors geaktiveer het.

Die groep is dit eens dat hul veel meer ingelig en entoesiasties is oor watter akademiese moontlikhede die US inhou en hul sien verseker meer uit na die pad na skool. Baie dankie aan die twee leerkragte wat hul naweek opgeoffer het!

 
 
Die groep.
Die kampus is groot en uitgebreid - vra indien jy raad/rigting nodig het!
Liam Jordaan en Alvirne Rooi by Maties se mascot.
Geplaas op 18 Februarie 2019, 14:45  

VRL-Kamp: Hoërskool

Vanjaar se kamp het te Stilbaai plaasgevind. Die VRL, vergesel deur meneer Dekker, le Roux en juffrou de Villiers, het omstreeks 15:45 vertrek. Teen 18:45 was die kamp klaar opgeslaan en is ons strand toe. Die seuns het later vuur opgesteek en wors vir hotdogs gebraai. Die onderwysers is 'n betreklik beskaafde tyd bed toe, maar die leerders, te oordeel aan hul steune en kreune 7am Saterdagoggend, het presies die teenoorgestelde gedoen.

Hoe dit ookal sy, ons is ná ontbyt strand toe vir godsdiens. Daarna het die VRL die eerste helfte van hul jaarbeplanning afgehandel. Nadat die beplanning met die opvoeders bespreek is, is ons na die riviermond waar ons met buitebande in die lagoon gaan swem het. Met die terugkoms by die kamp is deel twee van die beplanning afgehandel en kon die leerders uiteindelik meer gemaklik asemhaal. Almal se beursies het skielik vreeslik begin brand en is op die winkels toegesak. Preekstoel, een van die ander bekende strande in Stilbaai, is ook besoek.

Die middag het mnr le Roux 'n teikenskiet kompetisie georganiseer waar pryse aan die groepe met die meeste punte toegeken is. Sommige deelnemers het egter ook push-ups en sangnommers losgeskiet... ons is verheug om te rapporteer dat Rudi Edwardes demokraties verplig is om sy sangstem die diepsee in te slinger.

Laatmiddag het mnr le Roux en mnr Dekker asook vier leerders besluit om vanaf die noordekant van die brug in die Goukourivier af te dryf na die mond. Ons het ses buitebande aan mekaar vasgebind en begin dryf, net om agter te kom dat ons stadiger as 'n oer-slak beweeg het. Ons moes slim saamwerk om te verseker dat die "vlot" vinniger vorentoe beweeg. Die son was al onder toe ons noodgedwonge moes uitklim en in die slapste modder op moeder aarde na die pad loop. Vet pret!

Die aand het juffrou Roné en mnr le Roux vir spaghetti bolognaise gesorg en het die VRL, ná alle skottelgoed natuurlik gewas en weggepak is, vuur gemaak en marshmallows gebraai.

Sondagoggend het ons opgepak en die pad terug huistoe aangepak. Of so het die VRL gedink... In plaas van om links na Riversdal te draai, het die bus skielik regs na Mosselbaai gedraai. Mnr Dekker verstaan nie aldag hoe dit werk nie, maar die stuurwiel neig altyd see se koers toe. In ieder geval, net voor Mosselbaai het ons die N2 na Hartenbos geneem. Daar aangekom is die leerders na die nuwe waterpark geneem waar hulle die supertubes en putt-putt bane gaan mak maak het. Sommiges het sommer luilekker langs die see gaan stap. Om 1pm het ons vinnig by KFC gestop en daarna is ons huis toe.

Ons bedank graag die leerders vir die entoesiasme waarmee hulle aan die verskillende aktiwiteite deelgeneem het asook vir hul uitstekende gedrag en heerlike humorsin. Daar was heelwat ander kampeerders en ons het nie 'n enkele klagte ontvang nie. Dan die organiseerders: juffrou Schultz (kampering) en mnr Dekker, le Roux en juffrou de Villiers vir die ander logistieke. Ons deel graag 'n paar foto's met u.

 
   
     
Geplaas op 15 Februarie 2019, 11:11  
 

EDEN-Atletiekspan

Die volgende leerders neem 23 Februarie aan die Eden atletiekbyeenkoms by die De Jager Sportstadion in Oudtshoorn deel: Melody Titus (GS), Patricia Farao (100m), Jaiden Roos (100m) en Edward Bothman (100m). Baie geluk! Ons wens julle alles van die beste toe - gaan wys hulle waar Dawid die wortels begrawe het!

 
     
Geplaas op 13 Februarie 2019, 07:47  
 

Conquesta-uitslae: tale

HSL se graad 6 klas hetverlede jaar weereens onder die Top 20 skole in Suid-Afrika geëindig - ons spog met die 14de plek. Baie geluk - dit is geen geringe prestasie nie! Baie dankie aan juffrou Linda Radyn - juffrou se harde werk werp vrugte af!

 
Geplaas op 7 Februarie 2019, 07:41  
 

Vervroegde skooldag

Ouers, die skool verdaag môre, 8 Februarie, om 12:30. Die graad 12 opvoeders moet 'n verpligte werkswinkel in Oudtshoorn bywoon. Belangrike inligting betreffende die verskillende graad 12 vakke word met die betrokke opvoeders gedeel. Tref asseblief u reëlings dienooreenkomstig.

Groete,
HSL

 
     
Geplaas op 6 Februarie 2019, 17:52  
 

Eden Atletiek

Die datums vir die Eden byeenkomstes is as volg:

Eden Laerskole: 16 Februarie, De Jager Stadion, Oudtshoorn
Eden Hoërskole: 22 & 23 Februarie, De Jager Stadion, Oudtshoorn

Mnr Dekker het die ASA-uitslae van die onlangse klusterbyeenkoms eergister aan die betrokke skole in Kannaland gestuur. Wanneer die span bekend is, sal ons dit op die webtuiste plaas. Ons werk gewoonlik op 'n afsnypunt van 700 ASA-punte alhoewel daar soms spesiale vergunnings op grond van historiese prestasie gemaak word. Ons hou u op hoogte.

 
Geplaas op 29 Januarie 2019, 16:33  
 

Uitslae: Kleuresport 2019

Vanjaar wen die geelspan die optog- en sangbeker terwyl blou die spanskild verower. Wat die finale uitslag betref was daar slegs 21 punte verskil tussen die spanne. Kleuresport plaas 'n baie hoë premie op massa-deelname - hoe meer inskrywings daar is, hoe beter die kans vir 'n oorwinning. Sewe rekords is voorts verbeter - welgedaan, atlete! Ons opregte dank aan Shalom wat hul veld vir die baan-items beskikbaar gestel het asook almal wat ons ondersteun het!

Die beplanning vir die Kluster-atletiek van 2 Februarie is reeds in volle swang. Vanjaar vind die byeenkoms by die Karoolande veld in Zoar plaas. Die program sal teen Vrydag beskikbaar wees.

 
Geplaas op 24 Januarie 2019, 16:02  
 

Kleuresport 2019

Die kleuresport strek vanjaar weereens oor twee dae. Alle veld-items word op Donderdag, 24 Januarie vanaf 15:00 op die skool se veld aangebied terwyl die baan-items op 25 Januarie by die landbou-koöperasie se veld te Shalom plaasvind. Die tradisionele optogte deur Geel en Blou vind vanaf 14:00 plaas en die eerste skoot klap om 14:30. 'n Toegangsfooi sal by die hoofhek gehef word. Ons sien daarna uit om u by die twee geleenthede te verwelkom! Let egter daarop dat geen alkohol toegelaat word nie.

 
     
Geplaas op 9 Januarie 2019, 16:02  
 

Welkom in 2019!

Geagte Ouers, leerders, oud-leerlinge en vriende van HSL

Dit is heerlik om in die nuwe jaar welkom te heet! Ons hoop en vertrou u het 'n aangename vakansie asook geseënde kerstyd saam met u geliefdes en kinders beleef. Ons wens u en u kind sterkte toe vir die nuwe jaar!

Graag stel ons twee nuwe personeellede aan u voor: meneer Isaac Goliath (LW graad 10A, NW graad 7 tot 9, SK graad 7 tot 9) en mevrou Muché Jacobs (Wiskunde graad 7 tot 9, EBW grade 7 tot 9 en WG graad 10). Ons glo hul sal hul voete vlugtig vind en dat hul tyd by HSL voortreflik sal wees. Sterkte kollegas en baie welkom!!

Mnr Juandré September (hoërskool) en juffrou Ina de Wit (laerskool) neem tydens die eerste kwartaal as departementshoofde waar. Sterkte met die nuwe uitdaging!

 
 

Tydens vanoggend se saalgodsdiens het 'n baie spesiale persoon die hoërskool sowel as die laerskool toegespreek: Vicky Scheepers. Me Scheepers was 19 jaar in die SAW werksaam en het tot die rang van majoor gevorder. 'n Uiters ernstige motorongeluk in 2002 eis amper haar lewe.

Ná 'n uitgerekte rehabilitasieproses begin sy fietsry. Sy verwerf intussen Springbokkleure in fietsry en word in 2016 as die wêreldkampioen in haar afdeling (C5, padfiets) gekroon.

Hierdie merkwaardige dame het haar lewensverhaal met ons kom deel asook hoe die Here haar gesond gemaak het. Dat daar aan die einde van elke bult

'n afdraend is. Dat ons vir niks of niemand hoef terug te staan nie. En dat, indien ons volhard, die hoogste kruine oorwin sál word . Ons wil jou net die heel beste toewens, waar God jou ookal stuur. Dat Hy jou sal koester en beskerm en bewaar. Baie dankie vir die uitmuntende wyse waarop jy jou verhaal so onbaatsugtig en met soveel liefde en lewe gedeel het.
 

Graag wil ons ons matriekklas van 2018 met hul slaagpersentasie van 93% gelukwens! Hierdie prestasie plaas HSL in die Top-10 van skole in die onderskeie kringe. Ons top-kandidaat is Dané Gardiner met Alicia Blignaut in die tweede plek. Welgedaan!! Mag die klas van 2019 op die klas van 2018 se suksesverhaal voortbou.

 
 

Van u sal moontlik al van die volgende HSL-dogter gehoor het: Patricia Farao. Sy is immers 'n SWD-atleet wat in die verlede in verspring asook naellope uitgeblink het. Sy het haar sporthorison intussen verbreed en op dames-rugby begin fokus.

In Oktober verlede jaar is sy in die O-15 Wes-Kaap sewesspan opgeneem en het tydens Desember aan 'n nasionale toernooi gaan deelneem.

Die volle berig sal weldra op die webtuistes verskyn. Patrys, baie, baie geluk met nóg 'n pragtige prestasie! Is daar enige keer aan jou? Ons hoop van harte nie so nie! Hou so vol!

   
 
 

Juffrou Roxanne Griebelaar het onlangs geboorte aan 'n springlewendige seuntjie geskenk. Sy is vir die eerste kwartaal op kraamverlof. Baie geluk! Mag jul mekaar se lewens ongelooflik verryk.

 
         
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017 - 2019 |  hosting deur 1-grid