tuis - jongste nuus

 

Geplaas op 19 Maart 2020, 10:50 
 

Uit die kantoor

Geagte Ouers

Die tyd het weereens behoorlik gevlieg en na ‘n propvol eerste kwartaal, sien elke leerder, opvoeder en ouer met groot afwagting na die April-vakansie uit. Ouers moet asseblief daarop let dat die skole op Dinsdag 14 April 2020 heropen. Hierdie stap is deur die President genoodsaak om die verspreiding van die coronavirus pandemie wat lande tans wêreldwyd lamlê, te beperk. Ons doen ‘n beroep op u om uself en u kind veilig te hou.

Ons is baie trots op al ons leerders wat gedurende die somer-atletiekbyeenkoms, veerpyltjies en skaaktoernooie goed presteer het.

Nuwe personeelplasings sluit die volgende in:

  • Mnr Brendon Gertse wat verantwoordelik is vir Gr7 – 9 Tegnologie en Gr 10 - 12 LO.
  • Dr Nelia Garner is verantwoordelik vir Fisiese Wetenskappe Grade 10 - 12 en Natuurwetenskappe 7 - 9
  • Juffrou Anthea Jacobs is aangestel as Hulpbron-klasonderwyser in die plek van juffrou Wendy Appel wat weens siekte vir die res van die jaar nie beskikbaar sal wees nie.
  • Juffrou Claudia Willemse is aangestel as fasiliteerder in die hulpbronklas. Sy werk nóú saam met juffrou Anthea.
  • Juffrou Chantel Oosthuizen is aangestel as Graad R-onderwyser en juffrou Nicolene Adams as Pre-R-onderwyser.
  • Die Gr RRR-klassie word voorlopig deur juffrou Sonia Witbooi hanteer.

Dit is my opregte wens dat hierdie leerkragte werklik verryk sal word in hul nuwe werksomgewings.

Ons wil ons ouers bedank vir die goeie fondsinsamelingspoging van kwartaal 1. Ons Skool van Uitmuntendheid kan net gehalte diens aan u en u kinders verskaf indien die skool optimaal bestuur word. Met genoegsame fondse kan ons ons puik onderwysers vergoed en ‘n veilige en aangename skoolruimte vir ons kinders skep.

Baie dankie vir u ondersteuning aan u kind op akademiese- kulturele- en sportgebied. Die akademiese prestasie van die skool geniet steeds voorrang in ons ontwikkelingsaksies. Ons sien uit na die nuwe kwartaal met sy uitdagings en die voorreg om te sien hoe ons as die Hoërskool Ladismith-familie dit hanteer en gedy!

Skooltye:

  • Skool heropen: Dinsdag, 14 April 2020 om 08:00 en verdaag om 14:00 (grade 1 & 3: 08:00 – 13:30)
  • Res van kwartaal 2: 07:30 tot 14:00 en grade 1 & 3 : 07:30 – 13:30

Mag u en u gesin die broodnodige ruskansie geniet en wees veilig indien u op reis gaan.

Vriendelike groete.

SA Elie (SKOOLHOOF) 18 Maart 2020

 
     
Geplaas op 18 Maart 2020, 16:40 
   

Geagte ouers

U is bewus van die COVID-19 pandemie wat tot gevolg gehad het dat die skool vandag reeds gesluit het. Die amptelike heropeningsdatum is Dinsdag, 14 April om 8am. Indien hierdie datum verander, sal ons dit via die webtuiste aan u kommunikeer.

Indien alle datums onveranderd bly, ontvang u kind sy/haar rapport in die week van 14 April. U ontvang voorts vandag die kwartaalbrief albeit sonder die top-5 en die buitemuurse program. Vergewis uself asseblief van die inhoud. 'n Verkorte weergawe sal môre op die webtuiste gepubliseer word.

Ten spyte van die onsekerheid wat deur die pandemie veroorsaak word, het ons gepoog om normaal met klas voort te gaan en kon ons ook die toetsreeks suksesvol voltooi. Ons VRL het voorts 'n praatjie, wat gister deur Kindersorg aangebied is, bygewoon. Daar is hulle ingelig oor die dienste wat vir die jeug beskikbaar is. Ons bedank hulle dat hulle hul weg oopgesien het om ons leerders daar te verteenwoordig.

 
 
Geplaas op 11 Maart 2020, 08:54 
 

Skaakproewe

Op Saterdag, 7 Maart, het die lede van die skaakspan wat tydens die vorige proewe gekies is om verder deel te neem, by Bridgton in Oudtshoorn deelgeneem. 'n Baie warm en baie lang dag het gevolg. Die dimensie van skaak verander wanneer leerders met die skaakoorlosie sowel as die notering van skuiwe speel - dit was dus bykomende druk, maar uitstekende blootstelling. Ongeveer 500 deelnemers het die dag boonop bygewoon - dit is werklik wonderlik om skaak so in Eden te sien groei.

Die volgende proewe vind op 4 April plaas. Graag wil ons juffrou Roxanne Griebelaar (afrigter) en juffrou Andrea Job bedank - hulle was die volle Saterdag teenwoordig. Baie dankie ook aan die leerders wat getrou vir oefening opdaag en met soveel passie aan hierdie uitdagende spel deelneem.

 
 

Graad 4's raak outyds

Natuurlik nie regtig nie! Soos u weet is daar assesseringstake vir elke vak. In graad 4 Geskiedenis, as deel van die eerste kwartaal se assesseringstaak, moet die leerders 'n ou item skool toe bring.

Enigiets uit toeka se dae is voldoende. Elke leerder kry voorts die geleentheid om 'n mondeling oor sy/haar item te lewer. 'n Gedeelte van die klas word dus as't ware 'n museum.

Hier sien ons 'n verskeidenheid langspeelplate, kortspelers, 'n vleismeul, strykysters, 'n olie-lantern, uniforms asook die voorouer van die slimfoon. Ons wil ons verstout, maar is dit 'n koos wat agter een van die plate skuil? Dáárdie mondeling sou interessant gewees het!

Hopelik kry niemand die idee om oupa se twee ton Bedford op die tafel te parkeer nie...

 
       
Geplaas op 9 Maart 2020, 14:20 
 

Ouer-Opvoeder Sosiale Funksie - Terugvoering

Graag wil ons elke ouer bedank wat ons jaarlikse funksie bygewoon het! Vanjaar het die verrigtinge weens die hitte na die bloekombome agter die LO-saal verskuif. Die Voorskool se Wieledag is goed ondersteun - ons hoop elke ouer het sy/haar kruiwa teruggekry! Dankie aan mnr Crafford wat die reëlings getref het, Karel en Sipho wat weereens help braai het, die opvoeders vir hul bydraes en laastens die leerders wat die Voorskool ondersteun het. Ons deel graag 'n collage van kiekies. Tot volgende jaar!

 
     
Geplaas op 3 Maart 2020, 10:05 
 

Ouer-Opvoeder Sosiale Funksie - Kom ontmoet u kind se opvoeder!

Graag herinner ons u aan môre-aand se sosiale funksie by die LO-saal. Soos in die verlede is dit 'n bring-en-braai. Die skool voorsien die hout en braaidromme en ons sal sorg dat daar teen 17:00 reeds kole beskikbaar is. 'n Paar dames het aangedui dat hul netbalvaardighede nog kookwater is - kom toon u staal! Daar word spesiale moeite vir die koshuiskinders gedoen - hulle ontvang ook 'n ietsie van die rooster af. Die Voorskool hou terselfdertyd 'n wieledag waaraan u ook kan deelneem. U kind ontvang vandag 'n briefie met addisionele reëlings. Onthou asseblief 'n tang, vatlap, casserole/bak, speserye, sous en natuurlik iets om te braai!

 
 
Geplaas op 2 Maart 2020, 15:36 
   

Oud-leerder sterf tragies

Dit is met groot skok en hartseer dat ons afskeid van een van ons oud-matriekleerders, Marinique Hendriks, moet neem. Marinique, 'n kandidaat in die 2019 NSS-eksamen, het op 27 Februarie 2020 tragies verongeluk. Die ongeluk het naby Riversdal plaasgevind - die voertuig met die insittendes het teen 'n kudu gebots.

'n Verdere terugslag het die gesin vroeër getref met die afsterwe van Marinique se oom, ook in 'n motorongeluk, op 27 Februarie tussen Calitzdorp en Oudtshoorn. Ons vra dat die gemeenskap en leerders die familie in hul gebede sal hou - dit is 'n uiters moeilike tyd. Die diens word op Saterdagoggend, om 10am by LSS se saal gehou. 'n Roudiens word Donderdag-aand gehou.

RIV, Marinique.  †17 Desember 2001 - 27 Februarie 2020       |      Nader My God By U (kliek om af te laai; grootte = 5MB)

 
 

Matrieks besoek Stellenbosch

Die afgelope naweek is 'n groepvan 15 matrieks deur juffrou de Villiers na Stellenbosch vir die universiteit se jaarlikse opedag vergesel. Weens 'n veldbrand naby die Du Toitskloof pas moes die leerders noodgedwonge via die Bainskloof pas reis - 'n ervaring wat hulle nie gou sal vergeet nie! Met hul aankoms in Stellenbosch is die kampus verken en kon die leerders 'n proesel van die studentelewe kry. Die terugvoering was geweldig positief - ons is bly julle het die ervaring geniet! Mag dit julle motiveer om regtig hard vir die komende toetse en eksamens te leer. Graag bedank ons ook juffrou de Villiers vir die reëlings asook die opoffering.

 
   

Oud-leerder presteer

Van tersiêre studies gepraat: 'n oud-matriekleerder van Hoërskool Ladismith, Alecia Beukman (neé Lourens), A-gemiddeld kandidaat in die 2016 NSS-eksamen, verwerf op 28 Februarie 2020 die B.Com graad in Digitale Bemarking van die Prestige Academy in Bellville, Kaapstad. Sy slaag die graad cum laude. Sy word ook aangewys as die top student vir B.Com Digitale Bemarking.

Alecia het sedert graad 10 akademiese erekleure verwerf en het ná skool hierop voortgebou. Sy het onlangs na George in die Wes-Kaap verhuis waar sy reeds 'n internskap by Creative Touch losgeslaan het.

Die personeel en leerders van HSL wens jou asook jou gesin van harte geluk. Alle voorspoed met jou loopbaan vorentoe - welgedaan!

 
 

Heidelberg Kleinspan-Atletiek

Op 14 Februarie is 10 grondslagfase leerders deur juffrou Ina na die jaarlikse Buksie-atletiek te Heidelberg vergesel. Daar was heelparty pragtige prestasies - ons deel dit graag met u:

  • Whanté Jaftha verbeter die O-9 60m en 80m rekords
  • Die seuns behaal 'n 3de en die dogter 'n 5de plek in die aflos
  • Ons eindig op die podium: 3de uit ses skole

Voorts verdien die span R200 vir hul prestasies. Ons wens julle graag hartlik geluk! Baie dankie ook aan mnr Booysen wat met die vervoer gehelp het. Die volledige uitslae verskyn hiernaas:

 
 

Veerpyltjies

Twee graad 11 hoërskoolleerders, Eunice Booysen en Jesmine Selungo, het die afgelope naweek aan die Eden-proewe deelgeneem. Hulle het teen senior dames gekompeteer en werklike strawwe kompetisie ervaar. Ten spyte daarvan het die dogters hulself uitstekend van hul taak gekwyt. Eunice het vier wedstryde gewen. Veels geluk, julle! Dankie aan juffrou Nel asook haar man, Hoffie Nel, vir hul bystand om die spelers te slyp.

 
   
       
Geplaas op 24 Februarie 2020, 16:30 
 


Kannaland Skaakproewe

Op Saterdag, 22 Februarie, het Hoërskool Ladismith die eerste keer gasheer vir die proewe gespeel. Die skool se klub is deur alle lede verteenwoordig.

Die span wat aan die Eden-proewe gaan deelneem, sal eersdaags bekend gemaak word.

Graag bedank ons juffrou Roxanne Griebelaar en haar span wat die dag moontlik gemaak het.

 
 

Loopbaanuitstalling

Vanoggend het die graad 8, 9 en 11 leerders van HSL 'n loopbaanuitstalling in die stadsaal bygewoon. Verteenwoordigers van die SAP, NYDA, Emmanuel Verpleegskool, SEDA asook die Departement Arbeid was beskikbaar om inligting rakende die verskillende instansies te deel en te bespreek. Dit was voorts opvallend hoeveel klem die verteenwoordigers op die belangrikheid van 'n matrieksertifikaat gelê het. Die leerders is dit eens dat die ervaring werklik leersaam was - heelparty was stomgeslaan oor die verskeidenheid loopbane wat deesdae gevolg kan word. Wat verder goed was om te sien, was hoe die leerders die verskillende instansies met vrae gebombardeer het. Graag dan ons dankbaarheid aan alle rolspelers wat die dag moontlik gemaak het!

 
       
Geplaas op 17 Februarie 2020, 13:29 
 

VRL-Kamp 2020

Die jaarlikse Hoërskool VRL-Kamp het op 7 tot 9 Feb plaasgevind. Ons het verlede jaar met die idee om die kamp nader aan die dorp te hou begin speel. Juffrou de Villiers het die kampterrein by Oaksrest voorgestel, wat onlangs met moderne geriewe toegerus is. 'n Vinnige virtuele besoek was genoeg om ons te oortuig dat die venue perfek is om 'n klomp jongmense móég te kamp.

Vrydagmiddag het ons omstreeks 15:15 vertrek, kamp opgeslaan, die terrein verken en die reëls behandel. Twee ken-mekaar speletjies het gevolg: Hoekom/Omdat en Musical Chairs without Any Chairs. Die tweede speletjie is op goeie kommunikasie gebaseer en het vir vele komielike oomblikke en danspassies gesorg! Die aand is met ete, kuier om die kampvuur, aandgodsdiens en beurtkrag afgesluit.

Saterdagoggend is grootliks aan die VRL se jaarbeplanning asook sekere strategieë om hul take uit te voer bestee. Daarna het 'n teikenskiet-speletjie gevolg. Die leerders is eers geleer hoe om veilig met 'n windbuks te werk asook die moets en moenies van teikenskiet. Nadat elkeen 'n paar skote geskiet het om die gevoel te kry, het die eintlike pret begin. Papiertjies met opdragte in is vooraf in ballonne geplaas. Indien 'n leerder 'n ballon raakskiet, moes hy/sy die opdrag binne-in uitvoer. Hier moes Rudi sy liefde vir die bus verklaar, Renecia moes 'n hoender wat die Lotto gewen het naboots, Thomas moes soos 'n volstruis hardloop - u kry die idee. 'n Paar van ons lag nou nog...

Saterdag, 8 Februarie

Na oggendgodsdiens en ontbyt het die leerders hul jaarbeplanning gedoen. Daarna het ‘n teikenskiet-speletjie plaasgevind wat vir groot pret gesorg het! Papiertjies met opdragte op is vooraf in ballonne geplaas. Indien ‘n leerder ‘n ballon raakskiet, moes hy/sy die opdrag binne-in uitvoer. Veiligheidsreëls is vooraf behandel en die aktiwiteit is streng gemonitor.

Na middagete het die leerders op die “slippy-slide” baljaar, die terrein verder verken, dominos gespeel of gerus. Omstreeks 20:15 het almal ‘n nagmars aangedurf. Die sterk stappers was voortdurend by die swakker stappers en as groep het ons die 7km roete suksesvol voltooi. Die meeste leerders was net ná aandgodsdiens, omstreeks 23:00, in die bed.

Sondag, 9 Februarie

Na oggendgodsdiens en ontbyt is die leerders in drie groepe ingedeel en het hulle aan ‘n Karoo-weergawe van The Amazing Race deelgeneem. Die leidrade het hul kennis van die terrein getoets, maar geen leidrade is op gevaarlike plekke geplaas nie. Na afloop van hierdie aktiwiteit is die wengroep met ‘n prys beloon en het elke VRL-lid ook ‘n spesiale sleutelhouer met die WKOD se leuse (Enter to learn, Leave to serve) ontvang. Hierna het die leerders een uur gehad om hulself finaal op die “slippy-slide” uit te woed, dominos te speel en te ontspan. Om12:15 het ons begin om die kamp af te slaan asook om die terrein op te ruim. Die leerders was omstreeks 14:30 almal terug op Ladismith. Graag bedank ons die twee opvoeders, mnr Dekker en juf de Villiers wat die reëlings getref het asook elke VRL-lid vir die goeie gees en jul volgehoue samewerking.

 
     
Geplaas op 4 Februarie 2020, 11:57 
 

Skaak

Sedert skaak deel van HSL se buitemuurse bedrywighede geword het, het belangstelling stadig maar seker gegroei. Die klub bestaan tans uit 15 aktiewe lede wat gereeld oefen en aan kompetisies en proewe deelneem. Die afgelope naweek het die klub aan 'n skaakkompetisie in Calitzdorp deelgeneem. Dit het regtig baie goed gegaan met almal wat 'n hele paar wedstryde gewen het. Juffrou Griebelaar bestuur die klub en ons bedank haar weereens vir haar insette en afrigting. Baie geluk, julle! Die volgende kompetisie vind op 22 Februarie in Ladismith plaas.

 
 

Matrieks: Rooster vir ekstra klasse

Die rooster vir die matrieks se ekstra klasse is verlede week op die webtuiste gepubliseer. Die link kom bo-aan die webtuiste voor en lyk as volg:


Vergewis uself asseblief van die inhoud daarvan. Die rooster bly redelik onveranderd tensy daar alternatiewe reëlings getref word.

 
Geplaas op 15 Januarie 2020, 15:25 
 

Geagte Ouers, leerders en vriende van HSL

Dit is baie aangenaam om u terug te verwelkom! Ons vertrou u het 'n aangename rustyd saam met u kind geniet en dat u slaggereed vir 2020 is! Baie welkom ook aan die leerders wat vanjaar by ons aansluit. Mag julle spoedig jul voete vind!

 

Eerstens wil ons die matrieks van 2019 met hul slaagsyfer van 93% gelukwens. Mag jul toekomsplanne en drome bewaarheid word en mag die waardes van HSL lewenslank met jul wees!

Ons verwelkom graag dr Nelia Garner. Dr Garner neem by juffrou Croy oor en is vir Fisiese Wetenskappe graad 10 tot 12 sowel as Natuurwetenskappe verantwoordelik. Dr Garner woon reeds 'n paar jaar op Ladismith. Mag u u tyd by ons van harte geniet - baie welkom! Juffrou Jamie-Lee Roodman het ingestem om met LO en Tegnologie uit te help tot tyd en wyl ons 'n permanente aanstelling in die posisie kan maak. Ons stel jou bereidwilligheid om ons op kort kennisgewing uit te help hoog op prys.

Die DASS-programme word tans saamgestel en sal binnekort vanaf die webtuiste afgelaai kan word - die skakels verskyn oudergewoonte bo-aan die bladsy.

  Ons wil u graag daarop attent maak dat die skool môre om 12pm sluit. Die provinsie word tans deur 'n hittegolf gewurg en ons wil nie ons leerders aan onderrig in uitsonderlike hoë temperature blootstel nie. Die atletiek van môre-oggend word dus ook afgestel - kom in gewone somersdrag skooltoe.  
  Ongelukkig het ons slegte tyding gedurende die feestyd ontvang. Twee oud-leerders, Gideon Ellis (29 Julie 1998 - 26 Desember 2019) en Catherine Goosen (16 Februarie 1976 - 5 Januarie 2020) is van ons weggeneem. Gideon was van graad 1 tot 9 in HSL terwyl Catherine in 1993 saam met mnr Dekker matrikuleer. Aan die familie, vriende en naasbestaandes: ons bid vir vrede en verstroosting. Rus in vrede.  
 

Ons herinner u dat die belangrikste datums vir 2020 reeds op die kalender verskyn. Vergewis uself gerus. Wat die kleure-atletiek betref: die veld-items gaan Donderdag op ons veld plaasvind. Ons beoog om die baanitems Vrydagmiddag by Shalom aan te bied. Sodra ons uitsluitsel hieroor het, sal ons u inlig. Mag u 'n voorspoedige kwartaal saam met ons geniet!

Groete,
HSL

 
     
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017 - 2020 |  hosting deur 1-grid