tuis - jongste nuus

 

Geplaas op 31 Maart 2021, 07:52 
 

Toetsrooster: April 2021

Geagte ouers, ons plaas die toetsrooster vir April. Neem asseblief kennis van die datums. Die toetsperiode word vir die begin van die akademiese dag geskeduleer waarna normale akademiese onderrig voortgaan.

 
 
Geplaas op 30 Maart 2021, 11:05 
   

Atletiek "Trials", Hoërskool en Laerskool

Op Donderdag, 25 Maart en Vrydag, 26 Maart het die Hoërskool en Laerskool atletiek trials gehou. Die idee was, onder andere, om die potensiaal van 'n volle atletiekbyeenkoms binne die huidige regulasies wat met COVID-19 gepaardgaan, te toets. Ons wou ook 'n geleentheid vir deelname skep. Leerders van alle ouderdomme kon vir die 60m, 80m en/of Verspring inskryf. Die twee byeenkomstes is soos 'n normale byeenkoms waar Blou teen Geel deelneem, benader. Alle tye is en afstande is dus gemeet en ingevoer. Die beste prestasie is deur Whanté Jafta behaal. Sy het die 18 jaar oue rekord van Danielle "Ossie" Rothman in die 80m vir meisies O.10 van 12.7s na 12.09s verbeter. Baie geluk! Voorts was Clifford van der Westhuizen blitsig in die 80m. Weens COVID word die jaarlikse SWD-byeenkoms nie aangebied nie - geen provinsiale deelname met betrekking tot skole-atletiek is dus (tans) moontlik nie. Graag bedank ons die personeel wat vir die reëlings verantwoordelik was, die beamptes asook mnr Karel de Kock en Sipho Mgayi vir die baan se voorbereiding. Indien ons die groen lig kry om vanjaar 'n volle atletiekbyeenkoms aan te bied, sal ons die geleentheid verseker aangryp.

 
 
Geplaas op 11 Maart 2021, 09:26 
 

Geagte Ouers en leerders

Ontmoet ons hoofleiers vir 2021: Rudi Edwardes (VRL-Voorsitter), Lauren Fortuin (VRL-Ondervoorsitter), Vivian Steyn (Sekretaris), Rulermo Rademeyer (Tesourier) en Moné van der Berg (Leerderskakel). Baie geluk! Rudi en Lauren verteenwoordig voorts die leerders op die Skoolbeheerliggaam. Hulle word deur drie lede per graad in graad 8, 9, 10 en 11 bygestaan. Ons plaas die name en foto's volgende week. Sterkte aan elkeen - vanjaar bied verseker unieke uitdagings!

 
V.l.n.r.: Moné van der Berg, Vivian Steyn, Rudi Edwardes, Lauren Fortuin en Rulermo Rademeyer
     
Geplaas op 3 Maart 2021, 12:54 
 

Geagte Ouers en leerders

Hiermee wens ons die klas van 2020 geluk met hul Nasionale Senior Sertifikaat uitslae. 'n Maklike jaar was dit allermins. Alle sterkte vir elkeen se toekoms en mag jul drome bewaarheid word. Onthou: aim for the stars! Ons deel voorts die top 3 kandidate en hul planne vir die nabye toekoms.

 
   

Nommer Een: Tamryn Cloete   |   Onderskeiding in Toerisme (80%)

"Met 'n jaar soos 2020 is ek 'n bietjie bang om ver vooruit te beplan - ek weet immers nie watter uitdagings die toekoms vir my inhou nie. Ek het dus besluit om vanjaar in Nederland te au pair. Terwyl ek daar is wil ek graag in Europa toer en my reis-webtuiste, wat ek reeds in 2019 geskep het, met my avonture vul.

Vanjaar sal ek ook aansoek doen om in die toerismebedryf te studeer. My oorspronklike plan was om 'n aanlyn boetiek te begin, maar ek voel ek benodig meer kennis van die besigheidswêreld."

Baie geluk, Tamryn! Alle sterkte vir jou toekomsplanne! Niks verhoed jou om jou drome na te jaag nie. Met jou deursettingsvermoë is die wêreld inderdaad jou oester!

     

Nommer Twee: Renecia Timmie    |   Onderskeiding in Engels FAL (86%)   |   Hoofmeisie

"Op die oomblik is ek besig met aansoeke by die Universiteit van Stellenbosch, UCT asook die Universiteit van Wes-Kaapland. Ek wil beslis in 'n mediese rigting studeer - ek kyk tans na Fisioterapie, Farmakologie of Radiografie.

As gevolg van COVID kon ek nie by die Weermag aansluit en medies deur die instansie studeer nie. Hulle aanvaar egter in 2022/2023 aansoeke. Wanneer daardie tyd aanbreek sal ek my situasie evalueer. Indien ek dan reeds studeer, sal ek eers klaarmaak en dan my opsies oorweeg."

Baie geluk, Renecia! Die mediese wêreld kan homself gelukkig ag dat jy graag daarvan deel wil wees. Ons wens jou net die beste toe! Jy gaan nog groot hoogtes bereik!

 
       

Nommer Drie: Lee Koortzen    |   Onderskeiding in Toerisme (84%)

"Ek studeer vanjaar B.Ed (Bachelor of Education) aan die Sol Plaatjie Universiteit. Ek is ook by die Universiteit van Bloemfontein aanvaar, maar Kimberley is nader aan my ouers. Nadat ek my graad voltooi het, begin ek met my Postgraduate Diploma in Management of Childhood Disabilities. Met hierdie kwalifikasies kan ek as 'n Special Needs Onderwyser of LSEN werk, wat my passie is. Ek wil kinders met uitdagings ondersteun om tot hul volle potensiaal te ontwikkel. As kind is daar op my neergesien, vernaam weens 'n 30% gehoorverlies en probleme met my sig. Daar was egter ongelooflike ondersteuning! En, al was leer baie harde werk, stap ek weg van my skooljare as 'n sterk jong dame met 'n omgee-hart asook 'n passie om 'n verskil in ander "misjudged" kinders se lewens te maak."

Baie geluk, Lee! Ons stem volkome met jou saam - jy gaan talle kinders se lewens onherroeplik verander!

 
Geplaas op 2 Maart 2021, 13:31 
    Ontmoet die graad 2's!  
Welkom by graad 2!    
   
   
   
Geplaas op 22 Februarie 2021, 12:25 
 

  Ontmoet die graad 1's!

 
Welkom by graad 1!    
   
   
   
 
 
Geplaas op 13 Februarie 2021, 10:44 
   

Geagte Ouers en leerders

Graag stel ons ons twee nuwe kollegas bekend: mnr Alzandre Mostert en juffrou Thaila-Ann Louw.

Mnr Mostert is vir die volgende vakke verantwoordelik: Wiskundige Geletterdheid en Toerisme graad 10 en 11. Juffrou Louw is grootliks by Afrikaans graad 10 en 11 betrokke, maar neem ook die 10 C's vir Lewensoriëntering. Juffrou Karien van Tonder is steeds vir Afrikaans graad 12 verantwoordelik.

Kollegas, hartlik welkom! Ons wens u alle sterkte toe!

 
Mnr A Mostert Juffrou T Louw
 

Reëlings vir die eerste kwartaal

Ons volg weereens 'n 10-dag rooster. Wanneer die skool op 15 Februarie hervat, meld die graad 8's, 10's en 12's aan. In week 2 meld die graad 7's, 9's, 11's en 12's aan. Ons wissel dus tussen grade 8 en 10 en 7, 9 en 11. Die graad 12's is elke week by die skool.

Leerders meld vanaf 07:15 by die klein hekkie by die pawiljoen aan sodat screening en sanitering kan plaasvind. Die skool begin om 07:50. Vanaf Maandae tot Donderdae is die tye 07:50 - 14:00. Op Vrydae is die tye 07:50 tot 13:30. Die grondslagfase se tye is dieselfde behalwe hul begintye: die leerders begin om 08:00. Alle relevante inligting is in die skool se TREP (Temporary Revised Education Plan) dokument vervat - u kan dit HIER aflaai (Formaat = pdf; grootte = 674KB).

Ons sien baie uit om u en u kind(ers) by die skool te verwelkom!

Groete,
HSL

 
           
Geplaas op 8 Februarie 2021, 12:45 
     

Geagte Ouers en leerders

Dit spyt ons om u mee te deel dat een van ons oud-personeellede, juffrou Faren de Wet, vanoggend weens COVID-19 komplikasies oorlede is. Juffrou de Wet het in 2018 by ons aangesluit en was vir Besigheidstudies, EBW en spesifieke afdelings van Rekeningkunde verantwoordelik. Juf de Wet het in April 2019 'n pos by Hoërskool Barrydale aanvaar.

Ons is uiters geskok deur haar skielike heengaan. Ons innige meegevoel aan haar kollegas, leerders, naas-bestaandes en vriende. Mag ons nooit haar sonnige persoonlikheid en warm drukkies vergeet nie. Ons bid dat ons hemelse vader u sal vashou en vertroos.

Psalm 34:18: The LORD is close to the brokenhearted and saves those who are crushed in spirit.
Psalm 147:3: He heals the brokenhearted and binds up their wounds.

Rus in vrede, juffrou Faren.

 
Wyle juffrou Faren de Wet
Geplaas op 1 Februarie 2021, 08:54 
 

Geagte Ouers en leerders

Welkom by 2021! Ons vetrou dat ons Hemelse Vader u pad vanjaar ryklik sal seën. Aan die gesinne wat geliefdes aan die dood afgestaan het: ons innige medelye. Die personeel van HSL val vandag in om te verseker dat, wanneer u kind op 15 Februarie terugkeer, ons slaggereed is. Die Skoolbestuurspan is reeds sedert verlede Maandag op hul pos en belangrike administratiewe take, soos die skoolrooster, is reeds afgehandel. Ons verwelkom voorts 'n paar nuwe personeellede - ons vertel u eersdaags meer! Hou gerus die webtuiste asook die verskillende whatsapp-groepe vir belangrike inligting dop. Wees veilig!

Groete,
HSL-Personeel

 
     
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017 - 2021 |  hosting deur 1-grid