tuis - jongste nuus

 

 
Geplaas op 12 Junie 2019, 10:58 
 

Matrieks ontvang uitnodigings

Op Donderdag, 6 Junie, het die matrieks van 2019 hul uitnodigings vir vanjaar se matriekafskeid ontvang. Weens die feit dat die eksamen nog aan die gang was, kon ons nie die skoolsaal benut nie en moes die tradisionele oorhandigingseremonie ook aangepas word. Ons bedank graag die graad 11-leerders wat die uitnodigings gemaak het, tannie Karien en mnr Dekker vir die beplanning en ook oom Karel en Sipho wat die "arch" voorberei het.

 
Marisha Mentoor en Lee Koortzen oorhandig aan Gilde Julies.
  Carren-Ann Tyeas. Donderdagaand gaan jy beslís glimlag!  
 

Rugby teen Van Wyksdorp

Op Saterdag, 8 Junie, het mnr Crafford, juffrou Leoni en mnr Kikani die O-9 rugbyspan na Van Wyksdorp vergesel. Dit was die eerste ontmoeting tussen die twee spanne. Van Wyksdorp sukkel tans om wedstryde vir hul spanne te reël en was baie dankbaar dat ons geen moeite ontsien het om die dag by te woon nie. Ons is gul ontvang en het die dag werklik geniet terwyl ons seuns 'n barshou gespeel het om met 60 - 0 te seëvier. Dankie aan al die kollegas wat die dag vir ons kinders moontlik gemaak het!

 
Die twee O-9 spanne.
   

Onnie verwerf Wes-Kaap Kleure - wéér!

Juffrou Annalize Nel, tans betrokke by Toerisme graad 10 en Engels graad 10 tot 12, het vanjaar weereens Wes-Kaap kleure in veerpyltjies behaal. Sy het die prestasie in 2018 ook vermag.

Juffrou Nel neem vanaf 24 tot 28 Junie aan die Nasionale kampioenskappe in Port-Elizabeth deel. Baie geluk, Ma'am! Jy is 'n (pyl)veer in die hoed van HSL! Ry asseblief versigtig - ons verkies jou in een stuk.

 
 
             
Geplaas op 31 Mei 2019, 12:08 
 

Opvoedkundige uitstappie na biblioteek

Op DInsdag, 28 Mei, het die graad 1 tot 6 leerders wat in Huis Langenhoven woonagtig is, die dorpsbiblioteek besoek. Hulle het aan verskeie pret-aktiwiteite deelgeneem wat ten doel het om die leerproses te verbeter. Baie dankie vir hierdie oulike inisiatief!

 
Geplaas op 22 Mei 2019, 09:35 
 

Leerlinge skitter!

Jurgen Isaacs, 'n graad 7-leerder, is pas in die O.13 Cravenweekspan opgeneem. Welgedaan, jongman! Patricia Farao, tans in graad 9, het op haar beurt die SWD O.16 dogtersrugbyspan gehaal. Puik, Patricia!

 
Patricia Farao en Jurgen Isaacs
     
Geplaas op 17 Mei 2019, 10:37 
 

Sportuitslae: Tuis teen Towerkop

Ons tuiswedstryde vandeesweek is teen Towerkop: die rugby het egter na Towerkoppark verskuif. Die volgende uitslae is behaal:

Rugby O-9: gelykop 10 - 10
Rugby O-11: wen
Rugby O-13: wen 24 - 22
Netbal O-10: verloor 2 - 5
Netbal O-11: wen 3 - 0
Netbal O-12: verloor 6 - 12
Netbal O-13: gelykop 6 - 6
Netbal O-14: wen 6 - 2
Netbal O-15: verloor 5 - 7

 
 

Praatjie oor higiëne

Op 15 Mei het Inge Schreve, een van die maatskaplike werkers wat nou saam met HSL werk, met die graad 1 tot 3 leerders oor die belangrikheid van persoonlike higiëne kom gesels. Die tema was Hou my liggaam veilig. Ons bedank me Schreve graag - u ontsien nooit enige moeite met ons skool nie!

 
     
Geplaas op 11 Mei 2019, 10:37 
 

Laerskool Pantoffeldag

In 'n poging om bewustheid rakende siek en swak mense in ons gemeenskap te kweek, het die laerskool vandag pantoffels in plaas van skoolskoene aangetrek. Die redenering kom neer op bedlêende mense wat grootliks pantoffels dra. Die geld wat ingesamel is sal volgende week aan die Heather Huis oorhandig word. Baie dankie vir die pragtige inisiatief asook al die leerders wat dit ondersteun het!

 
     
Geplaas op 10 Mei 2019, 15:30 
 

Netbal: Kwartaal-afsluiting

Op Donderdag, 9 Mei, het die O-16-netbalspan die kwartaal met vriendskaplike wedstryde teen Shalom afgesluit. Daar is nie regtig telling gehou nie aangesien die idee was om gees te bou en pret te hê. Dit was 'n baie aangename dag en ons bedank Shalom graag vir hul gasvryheid en al die wedstryde wat heeljaar in 'n goeie gees gespeel is. Volgende kwartaal hou ons weer telling, hoor...

 
   
 
 
Geplaas op 9 Mei 2019, 11:13 
 

Sport teen Amalienstein

Op Dinsdag, 7 Mei, het ons rugby en netbal teen Amalienstein gespeel. Die rugby is by Karoolande op Zoar gespeel en die netbal op ons tuisbane. Hier is die resultate:

Rugby O-9: wen 20 - 5
Rugby O-11: gelykop 20 - 20
Netbal O-9: wen 10 - 0
Netbal O-10: wen 2 - 0
Netbal O-11: wen 7 - 1
Netbal O-12: gelykop 6 - 6

Mooi so, Ladies! Baie dankie weereens aan elke afrigter, skeidsregter, mnr Crafford wat die rugbymanne Zoar toe en terug vervoer het en die toeskouers.

 
     
Geplaas op 3 Mei 2019, 11:00 
 

Skaakproewe

Baie sterkte aan Mckayllo Opperman, Linique Claassen en Madeleine Diemer met die Wes-Kaap skaakproewe hierdie naweek in Kaapstad! Gróót waardering aan mnr Stephanus Kotzé wat die sweetpakke in George opgelaai het.

 
V.l.n.r.: Mckayllo Opperman, Linique Claassen, juf. Roxanne Griebelaar (afrigter) en Madeleine Diemer
 
Geplaas op 2 Mei 2019, 10:55 
 

Finale reëlings - Hoenderbraai

Ouers, hiermee dan die reëlings vir môre. Die skool begin gewone tyd, 07:30. Die Voorskoolse Sentrum asook grade 1 tot 3 verdaag om 12:30. Graad 4 tot 12 verdaag om 13:00. Etes kan vanaf 13:00 tot 16:00 afgehaal word. Onthou asseblief om u kaartjie(s) saam te bring!

 
 

Catch-up Program

Die skool is tans besig om werk, wat as gevolg van al die vakansiedae verloor is, in te haal. Ons fokus op alle grade waar werk agterstallig is. Die klasse word regtig uitstekend bygewoon - baie dankie leerders vir jul toewyding! Dankie ook aan elke opvoeder wat sy/haar tyd oor naweke asook op vakansiedae opoffer om die werk in te haal - saam maak ons 'n "mean team!"

 
Geplaas op 26 April 2019, 10:45 
 

Hoenderbraai van 3 Mei

Ouers, graag herinner ons u aan die jaarlikse hoenderbraai. 'n Ete kos u R50 en ons wil probeer om alle bestellings teen volgende Dinsdag af te handel. Glo ons as ons sê u sal nie spyt wees nie! Indien u 'n skenking wil maak, die volgende sal hoogs waardeer word: Cross & Blackwell mayonnaise, uie, aartappels, hout en margarine. Hou asseblief in gedagte dat volgende Woensdag 'n vakansiedag is - dit gee die skool dus min tyd om alles gereël te kry. Mag u dan 'n aangename naweek saam met u kind spandeer.

 
     
Geplaas op 25 April 2019, 15:42 

Cashbuild: oorhandiging van pryse en prysgeld

Donderdag, 25 April, is 'n dag waarna ons reeds 'n geruime tyd uitsien - Cashbuild in Oudtshoorn se openingseremonie. Agt skole het die verrigtinge bygewoon. In die eerste kwartaal het Cashbuild 'n kompetisie geloods, Art-at-Heart, waar leerders gevra is om tekeninge van die Cashbuild gebou te maak. Die drie beste tekeninge van elke skool is met pryse beloon en elke skool met boumateriaal ter waarde van R15 000. HSL se drie wenners is almal in graad 6: Vernolene Abdol (Goud), Ethan Kiewiet (Silwer) en Mishca Fuller (Brons). Die drie leerders asook ons VRL-Voorsitter, Cylelin Hess, Onder-Voorsitter, Liam Jordaan en Hoofmeisie, Beuagan Rooi, is Donderdagoggend deur mnr Dekker na die seremonie vergesel.

V.l.n.r.: Cylelin Hess, Liam Jordaan, Beaugan Rooi, Mishca Fuller, Vernolene Abdol, Ethan Kiewiet

Presies om 08:30 het die verrigtinge afgeskop. Die seremoniemeester, toevallig ook 'n meester op saksofoon, het die leerders deurgaans vermaak en aktief betrokke gehou. Cashbuild se CEO het spesiaal saamgekom om meer omtrent die maatskappy se doen en late te vertel. Mnr Wilco Benade, die bestuurder van die Oudtshoorn-tak, het ook 'n kort toespraak gelewer. Daarna is die pryse oorhandig. Eerstens is 'n tjek van R15 000 aan elke skool oorhandig. Die wenners van die kunswerke was volgende aan die beurt en het elk 'n geraamde sertifikaat, 'n pennestel en 'n t-hemp ontvang.

Mnr Wilco Benade oorhandig die tjek aan mnr Dekker.

Van die skole het kort vertonings voorberei - die opvoeders wat hul leerders vergesel het, was ook die beoordeelaars. Die vertonings het grootliks uit danse asook sangnommers bestaan. Hierna is koeldranke en hotdogs aan almal bedien. Elke leeder, nie net die wenners nie, het voorts 'n partytjie-pakkie ontvang. 'n Paar bedankings het dan ook die einde van die seremonie ingelui.

Graag wil ons ons wenners gelukwens - julle dra HSL se naam hemelhoog! Aan ons VRL-hoofleiers: baie dankie vir die hulp met fotos, logistieke en al die hulp met die kleingoed - julle is ware ambassadeure vir HSL en dit is wonderlik hoe ons altyd op jul nommer kan druk! Laastens baie dankie aan Cashbuild vir die ongelooflike werk wat julle onder die jeug en gemeenskappe verrig. En natuurlik die tjek!

Ons wenners: Mishca Fuller, Vernolene Abdol en Ethan Kiewiet.
     
Geplaas op 25 April 2019, 14:32 
 

Skaak

Drie leerders het onlangs Eden-kleure in skaak behaal: Mckayllo Opperman, Linique Claassen en Madeleine Diemer. Dit is 'n ongelooflike prestasie - baie geluk!! Hulle verwerf hiermee volle erekleure vir Skaak. Die span neem op 4 en 5 Mei aan die Wes-Kaap proewe in Kaapstad deel - juffrou Nel gaan hulle vergesel. Ons bedank graag juffrou Griebelaar wat die leerders afrig.

 
 

Rugby en Netbal teen Shalom

Op Woensdag, 24 April, het ons teen Shalom kragte gemeet. Die netbal is op ons bane gespeel terwyl die rugby by Shalom plaasgevind het. Gemengde welslae is by die netbal behaal:

O-9 wen, 5 - 0
O-11 wen, 4 - 0
O-12 gelykop, 2 - 2
O-13 wen, 11 - 2
O-15 verloor, 2 - 15
O-19 verloor, 2 - 13

 
Juffrou Andrea Job saam met die O-13 span.
Wat die rugby betref, het die O-9's met 30 - 5 geseëvier. Die O-13's het ook hul wedstryd gewen - met 70 - 0! Graag bedank ons Shalom wat hul veld vir die rugby beskikbaar gestel het asook vir die verversings. Dankie ook aan elke skeidsregter, speler en toeskouer - almal het die dag terdeë geniet.
     
Geplaas op 24 April 2019, 09:35 

Omgewingsleer vir Graad 6

Op 12 April het ons besoek ontvang van me Vuyiseka Dyantyi. Me Dyantyi het met die graad 6-klas oor omgewingsleer kom gesels, veral dat dit baie belangrik is dat ons ons omgewing waardeer en beskerm. Baie dankie, me Dyantyi! Baie dankie ook aan juffrou Radyn en Kannaland Munisipaliteit vir die inisiatief.

Me Dyanthi vertel die leerders meer rondom omgewingsleer.
'n Paar graad sesse met plakkate spesiaal vir die praatjie.
 

Markdag - Voorskoolse Sentrum

Op 12 April het die voorskoolse sentrum onder leiding van juffrou Anthea hul jaarlikse markdag vir graad 1 tot 6 gehou. Soos u op die fotos kan sien was daar sowaar iets van alles te koop! Ons is ongelooflike dank aan ons ouers verskuldig - amper alle lekkernye is deur hul voorberei. Dit het ons uitgawes tot slegs R198 beperk en tot gevolg gehad dat ons ±R4500 wins kon maak! Ons bedank graag die hele voorskool personeel vir hul harde werk - ons is super-trots op julle!

 
 

Netbal teen Calitzdorp

Op 17 April, het ons O-16 en O-19's teen Calitzdorp op hul bane gespeel. Die O-16's het met 13 - 5 gewen terwyl die O-19's net-net met 6 - 7 verloor het. Ons wil hul afrigter, Jamie Oransie, graag bedank vir die hantering van die wedstryde asook vir al die moeite wat sy insit om die spanne af te rig.

 
     
Geplaas op 12 April 2019, 11:56 

Netbal teen LSS

Op Donderdag, 11 April, het ons O-14, O-15, O-16 en O-19's teen Ladismith Sekondêr op ons bane gespeel. Voor die uitslae bekend gemaak word, wil ons baie dankie sê aan al die toeskouers, skeidsregters en die noodhulpspan asook die afrigters - sonder julle is dae soos die nie moontlik nie. Kortliks dan die uitslae:

O-14 wen, 11 - 8
O-15 verloor, 6 - 12
O-16 wen, 17 - 6
O-19 wen, 12 - 11

Baie geluk, meisies! Dit was boonop die O-19's se eerste wedstryd - ons hoop julle kan op jul sukses voortbou. Sterkte vir die res van die seisoen!

 

Belangrike datums en inligting

U ontvang vandag drie belangrike skrywes - herinner asseblief u kind om die dokumente vir u te gee.

Die eerste een bevat belangrike inligting betreffende die SBL-tussenverkiesing van Dinsdag, 16 April. Ons moet 'n minimum van 51 ouers teenwoordig hê om 'n wettige verkiesing te hou - andersins moet ons herskeduleer. Gratis vervoer sal beskikbaar wees.

Die tweede skrywe hou verband met die wegneemetes, een van ons jaarlikse fondsinsamelingspogings. Ons benodig u insette rondom die spyskaart.

Laastens kommunikeer ons inliging rakende die musiekklasse van mnr Ernest Nolte. Die kostes daaraan verbonde word bekend gemaak. Sou u intussen besluit het om u kind ook musiek (klavier, kitaar, viool of sang) te laat neem, kan u dit so op die skrywe aandui.

 
 
Geplaas op 9 April 2019, 15:06 

Netbal teen Bridgeton

Op Saterdag, 6 April, het ons O-16 netbalspan twee wedstryde in Bridgeton gaan speel. Die eerste wedstryd was 'n naelbyt-affêre met ons span wat net-net met 7 - 9 verloor het. Die tweede wedstryd is teen Bridgeton se O-17's gespeel en ons meisies het groot durf aan die dag gelê om die seniors aan te vat. Die oormag was hierdie keer egter te groot! Ons bedank graag juffrou Roné de Villiers wat die bussie bestuur het asook Jamie Oransie wat die span afrig. Op die volgende foto's pryk die span met hul spoggerige nuwe rompies:

V.l.n.r.: Rozé Julie, Eunice Booysen, Raheema Willemse, René Mentoor, Sarie Roodtman, Chleo Lawedien, Vivian Steyn en Jesmine Ntsulungu.
Die doel van die doel? Doel. In. ;)

Rugbyproewe

Een van ons graad 7 leerders, Jurgen Isaacs, neem tans aan proewe vir die Cravenweek span deel. Die eerste rondte proewe is reeds afgehandel en dit is aangenaam om u mee te deel dat Jurgen gekies is om aan die tweede rondte deel te neem. Hartlik geluk aan hom asook sy ouers en ouma wat hom sedert sy heel eerste dae steeds kranig ondersteun!

Juffrou Faren de Wet neem afskeid

Dit spyt ons om u mee te deel dat juffrou Faren de Wet, sedert 2018 deel van die HSL-familie, 'n pos in Barrydale aanvaar het. Ons wens haar alle sterkte toe met die nuwe uitdaging! Juffrou de Wet se vakke sal tussen die bestaande personeel verdeel word - die leerders kan 'n nuwe rooster teen komende Donderdag verwag.

     
Geplaas op 2 April 2019, 13:55 
 

Geagte Ouers

Baie welkom by die tweede kwartaal! Ons vertrou u het 'n aangename tyd saam met u kind gehad en dat u u batterye kon herlaai.

 
 

Ons spring dadelik weg met 'n belangrike aankondiging: die skool verdaag môre, 3 April, om 12:30. Daar is verpligte vergaderings en werkswinkels geskeduleer en heelwat van die personeel is daarby betrokke. Ons sal dit baie waardeer indien u u reëlings dienooreenkomstig sal tref.

 
 

Ons verwelkom graag juffrou Letricia Croy en juffrou Christa Muller! Juffrou Croy is in meneer Jacques le Roux se pos aangestel en is vir Fisiese Wetenskappe graad 10 tot 12 asook Wiskunde graad 10 verantwoordelik. Mag juffrou sommer vinnig juffrou se voete vind! Juffrou Muller is in die Intermediêre Fase aangestel en is vir die volgende vakke en grade verantwoordelik: Wiskunde graad 6 en 4, NWT grade 4 tot 6 en Engels FA graad 6. Juffrou Muller het in die verlede by ons geproef en is dus redelik vertroud met ons stelsels. Baie welkom!

Dan is dit aangenaam om juffrou Roxanne Griebelaar terug te verwelkom. Juffrou Griebelaar was die eerste kwartaal met kraamverlof. Dit is heerlik om u terug te hê, juffrou Roxy!

Die tweede kwartaal is natuurlik 'n eksamen kwartaal en daar is baie werk wat afgehandel moet word. Ons vra dat u u kind deurentyd sal ondersteun en toesien dat daar met groot ywer op die akademie gefokus word.

Sterkte vir die tweede been van 2019!
HSL

 
     
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017 - 2019 |  hosting deur 1-grid