kwartaal 3 - 2017

    |    Klasposisies K3, 2017 

 
   
  Geplaas op 29 September 2017, 10:19 
 
 

Geagte Ouers en vriende

Die derde kwartaal kom vandag tot 'n einde - die tyd het omtrént gevlieg! Dit was 'n baie besige kwartaal en die opvoeders asook die leerders sien uit na 'n welverdiende ruskans. Sedert ons plasing twee dae gelede het die volgende aktiwiteite plaasgevind:

  • die graad 4-klas onder leiding van mnr Davids het potjiekos gemaak
  • die personeel was op 'n uitstappie na Diesel en Créme in Barrydale
  • juffrou Anthea en haar spannetjie het die kruise by die driehoeksbaken net bokant die plesierkoppie besoek.

Baie dankie aan elkeen wat by die afsonderlike aktiwiteite se reëlings betrokke was - julle weet wie julle is! Die volgende foto's sluit dan hierdie stories af:

 
 

Soos gebruiklik ontvang u, saam met u kind se rapport, die kwartaal se nuusbrief. Die Top 5 uitslae verskyn agterop. Die skool het pas die Top 5-balkies ontvang en sal dit weldrae aan die leerders uitdeel. Die foto's sal volgende kwartaal op die webtuiste verskyn. Ons wil gaag mnr Davids vir hierdie inisiatief bedank.

Vyf van ons leerders het vir die finale rondte van die jaarlikse AMESA-kompetisie gekwalifiseer en het hulself werklik uitstekend van hul taak gekwyt. AMESA fokus op Wiskunde en stel hoë-orde vrae aan die kwalifiserende kandidate. Dit is nie enige leerders wat vir die eindrondte kwalifiseer en boonop puik presteer nie. Baie geluk, julle! Hulle is:

  • Lisa Steyn (Goud)
  • Xaya Rose (Silwer)
  • Adrian Diemer (Brons)
  • Li-Anne Huisamen (Deelname)
  • Riancke Slump (Deelname)

Die jaarlikse begrotingsvergadering vind op 19 Oktober om 18:00 in die skoolsaal plaas. Dit is baie belangrik dat u die vergadering bywoon - teken dit asseblief in u dagboek aan.

Vanweë die knellende droogte en die gevolglike agteruitgang van die rugbyveld, vind die jaarlikse MTB nie vanjaar by HSL plaas nie. Die eindpunt verskuif na die skougronde. 'n Aantal van ons leerders is egter steeds betrokke, hetsy by waterpunte of as deelnemers. Die wat gaan ry: onthou jou valhelm en ry asseblief versigtig! Die deelnemers word om 05:30 by die hoofhek opgelaai en die kinders wat die waterpunte beman om 06:30.

Die kalender op die webtuiste bevat reeds die ander datums wat pertinent in die nuusbrief genoem word.

Ouers, vriende, hiermee bedank ons elkeen van u vir u voortgesette belangstelling in ons skool, ons leerders, ons personeel, ons bedrywighede. U sterk ons hande en vergemaklik ons taak. Ons bedank ook hiermee ons personeel - van die Voorskoolse Sentrum regdeur tot Graad 12. Hulle sit smiddae tot laat met voorbereiding, administratiewe take, vergaderings, intervensie, ondersteuning ens. Soggens vroeg-vroeg is hulle weer op hul pos. Baie dankie! 'n Ongelooflke groot blyk van waardering aan mnr Elie. Dit is geen geringe taak om 'n skoolhoof selfs in voorspoedige tye te wees nie. Dit is 'n voorreg, Meneer. Baie, baie dankie! Ook vir die R25!!

Mag u 'n wonderlike tyd saam met u kind beleef! Pas uself mooi op.
HSL

 
Geplaas op 27 September 2017, 10:19 
 

Goeiemôre Vriende en Ouers!

Die einde van die toetsreeks asook rekord-eksamen het aangebreek en die opvoeders is druk besig met die administratiewe take wat daarmee saamgaan. Teen Vrydag sal ons 'n uitgebreide opdatering plaas. Intussen is dit vir ons aangenaam om die volgende persone wat onlangs verjaar het, amptelik geluk te wens:

Mev Rachel Elie (25 September 2017). Mev Elie is natuurlik mnr Elie se gade en is 'n ware voorslag in die koshuis. Baie, baie geluk! Mag u nuwe lewensjaar vir u en u gesin slegs vrede en voorspoed bring! Baie geluk aan mev Melanie van der Merwe, Huis Langenhoven se spyse-spesialis (lees: kok). Sy het op 26 September verjaar. U verrig daagliks 'n baie groot en belangrike werk. Vrede en vreugde vir die nuwe lewensjaar! Laastens aan mev Carine Crafford, skoolsekretaresse en mnr Dawid Crafford se vrou, wat ook gister verjaar het. Haar lessenaar is altyd vol papiere en haar vinger op die skoolklok. Sy plak ook pleisters en droog trane af. Baie geluk, Carine! Mag God se rykste seën oor julle drie daal.

 
Geplaas op 21 September 2017, 08:47 
  By gisteraand se Algemene Jaarvergadering van Huis Izak van Tonder, het een van ons oud-leerders, Eufracia Opperman, 'n pragtige sangitem gelewer. Dit is wonderlik om te sien hoe ons jong volwassenes in die gemeenskap betrokke is en die skool se naam hoog hou.
 
Kettinggebedsgroep

Ons leerders neem vandeesweek vrywilliglik aan 'n inisiatief van die NG Kerk deel. Elke tweede pouse kom hoërskoolleerders en 'n opvoeder in die taakkamer byeen en bid oor kwessies soos geweld, korrupsie, morele verval ensovoorts. Hiernaas vat Rudi Edwards en Thomas Bell hande. Baie dankie aan elke leerder wat hul pouses hiervoor opoffer - shouldn't we all?
 
 
Geplaas op 18 September 2017, 14:27 
  Little Men Konferensie
Verlede week was 'n groot aantal van ons grondslagfase-seuns by die Little Men konferensie betrokke. Dit is 'n inisiatief wat op lewensbeginsels en sterk waardes fokus. Hoe vroeër ons jongmense natuurlik daaraan blootgestel word, hoe beter. Ander kwessies wat behandel is, sluit boelie-gedrag, leierskap en respek in. Voorts is die seuns geleer dat alle keuses en optredes gevolge het asook hoe om verkeerde optrede reg te stel. Ons seuns het hulle pragtig gedra en waardevolle lesse geleer.
'n Man moet darem die innerlike ook versterk!
Ons bedank graag mnr Andrew Davids vir sy betrokkenheid by die projek. Nog 'n veer in die hoed van HSL! Little Men in the company of a big man? Inderdaad.
 
Geplaas op 18 September 2017, 13:18 
 

Ouers en vriende van HSL

Die tweede laaste week van die derde kwartaal het aangebreek. Soos u weet is ons druk besig met die toetsreeks terwyl die matrieks hul rekord-eksamen aflê. Ons deel graag 'n paar gebeure met u.

Kunstige Graad 3's

Die jaarlikse gemeenskaps-eisteddfod is na 14 Oktober uitgestel. Tog het die graad 3-klas, onder leiding van juffrou Lize-Marie, reeds 'n paar kunswerke voltooi. Die eerste tema was "Ek is uniek". Gemengde media is daarvoor gebruik, onder andere lappe, linte en knope. 'n Paar lekker groot foto's:

Volgende aan die beurt: voëlverskrikkers!
 
 

Spekboom-inisiatief

Op 6 September het die skool, in same-werking met Cape Nature, die Gouritz Cluster Biosphere Reserve (GCBR) asook die Landmark Foundation, 70 spekbome, 1 Soetdoring en twee Geelhoutbome op die terrein geplant. Mnr le Roux, tesame met 'n groot span gretige graad 7's, 8' en 9's, het skouer aan die wiel gesit en al die bome geplant. Huis Langenhoven het nie agterweë gebly nie en ontvang binnekort 'n besending spekbome. Ons is groot dank verskuldig aan mnr André Britz en me Monica Vaccaro wat die projek geloods het. Besoek gerus hul webtuiste. 'n Paar foto's:

 
 
 
 
 
  Beloning vir goeie gedrag
Soos u weet, beloon Hoërskool Ladismith graag goeie gedrag. Die graad 8's asook 5R's is verlede kwartaal by Steers getrakteer. Verlede week het 'n paar dogters in die Grondslagfase 'n kuiertjie by Stanley's losgeslaan. Wel, nie regtig losgesláán losgeslaan nie - presies die teenoorgestelde! Hulle het ook die geleentheid gekry om hul eie kolwyntjies te versier. Pragtig, julle!! Dankie juf Ina, Bellona, Leonie en Lize! Ons grondslagfase opvoeders is gedurig met een of ander inisiatief doenig - die besoek bevestig dit weer. Laastens, 'n paar foto's:
 
  Mnr le Roux en die watervuurpyl
Ons Skeinat-opvoeder, mnr Jacques le Roux, is 'n man wat lief is vir praktiese voorbeelde. Weekliks formuleer hy vreemde konkoksies binne klein glasbuisies... ons vermoed hy probeer vuur wat homself blus ontdek. Intussen het mnr le Roux 'n toestel waarmee die konsep van drukking ten toon gestel word, aangekoop: die watervuurpyl. Water word in 'n plastiekbottel getap en die vuurpyl se vinne word aan die bottel vasgemaak. Lug word na die bottel gepomp waar drukking begin opbou. Indien die druk 'n sekere punt bereik, skiet die bottel los. Die vuurpyl bereik 'n hoogte van ±40m tot 50m!

Mnr Dekker het 'n video van die proses geneem, maar dit is tans te groot vir die webtuiste. Voorlopig dus 'n paar kiekies:
Mnr le Roux, die vuurpyl en 'n paar katvoet graad 10's!
 
Away she goes! Splitsekonde later
Ons beoog om "glow-in-the-dark" ink in die hande te kry. Kan u dink hoe ongelooflik dít sal lyk? Begin solank meng, mnr le Roux!
 
Geplaas op 5 September 2017, 09:31 
  Die week se waarde is Leierskap. Juffrou Roné en die graad 8's het die waarde Maandagoggend met behulp van dans, sang en voorlesing behandel. Juffrou Heimi het verlede Sondag verjaar - baie geluk! Ons vermoed sy woon in die skool, want sy is altyd hier. Dankie vir u onbaatsugtige werk, juffrou Heimi! Mag die nuwe lewensjaar propvol vreugde wees! Ons trompoppies het verlede naweek by die NG Kerk se basaar opgetree. Soos oudergewoonte was hulle eersteklas. Dankie vir julle voortgesette harde werk - julle maak ons super-trots. Juffrou Anthea speel natuurlik 'n leeue-aandeel as dit by die poppe kom - dankie, Anthea!
 
 
Geplaas op 1 September 2017, 15:18  
 

Geagte Ouers en vriende van HSL

'n Ongelooflike besige week kom so op lentedag tot 'n einde. Ons deel graag die week (asook 'n belangrike gebeurtenis van verlede week) se bedrywighede met u.

 

Veels geluk aan...

Mnr Jacques le Roux! Ons Skeinat- en Skaak-ghoeroe het verlede week verjaar. Sy baard is net so legendaries soos sy vermoë met proefbuise en pionne.

Baie geluk, Jacques! Mag al jou chemiese reaksies positief reageer, momentum monumentaal in jou guns wees, jou baard sonder koshuiskos en jou nuwe lewensjaar i(k)onies. Dankie vir die ongelooflike werk wat jy verrig.

NTA-Benoeming

Mev Anthea Jacobs, graad R-spesialis, is vir 'n "National Teaching Award" benoem. Dit is basies die opvoeder se Oscar. Mnr Elie het die seremonie gisteraand bygewoon waar juffrou Anthea 'n derde plek losgeslaan het. Pragtig!!

Entrepeneursdag

Jaarliks kry ons leerders die geleentheid om hul besigheidsvernuf ten toon te stel. Hulle moet 'n stalletjie beplan, dit bemark en dan op entrepeneursdag bedryf. Die idee is natuurlik om maksimum wins te maak. Gewoonlik is daar allerhande lekkernye te koop - vanjaar was geen uitsondering nie!

Die volgende grade het deelgeneem: graad 7, 10 en 11. Op die foto regs spog Chevandré Willemse, Rowano Siljeur, Joshua Opperman en Emile Afrikaner met hul stalletjie. Emile is 'n "natural" - dit is moeilik om NIE iets by hom te koop nie! Kinders, baie dankie. Die stalletjies was volop en goed georganiseer. Ons sien reeds uit na volgende jaar!

 

40 Days

Die matrieks het vandag 40 days gehou. Dit beteken dat daar nog 40 dae oor is voor hulle met hul finale eksamen begin. Van meneer Dekker wat 03:30 wakker gemaak is tot 'n skoolklok wat eenvoudig nie wou ophou lui nie tot 'n rugbywedstryd tot die tradisionele matriekdans - 40 days is behóórlik gevier. Dankie, graad 12's!

Die opvoeders het lekker gees getoon deur soos die leerders aan te trek. U moet maar self besluit wie die hoofseun en hoofmeisie is. Juffrou Linda, Lize-Marie en Janita se uitrustings het uiteraard niks met die skooluniform te doen nie - hulle is die Powerpuff Girls. Ons weet ook nie hoekom nie.

Agter v.l.n.r.:     Mnr Andrew Davids, juffrou Marinda Prinsloo, mnr Jean Dekker en mnr Jacques le Roux
Middel v.l.n.r.:  Juffrou Roné de Villiers, mnr Wean Mostert en juffrou Janita Viljoen
Voor v.l.n.r.:      Juffrou Heimi Van Wyk, juf Lize-Marie Swart, juf Bellona Peceur en juf Linda Radyn

Juffrou Janita, Linda en Lize Juffrou Heimi en Karien (amper naweek...)
Oud-leerder tree op in Oudtshoorn

Mnr Davids se oudste spruit, Nasia, het onlangs 'n sangitem by Struisies gelewer. Twee van ons matrieks, die VRL-voorsitter Aldricht Makriga (kitaar) en Demetrius Aysley (klavier) het haar begelei. Laai 'n video van die optrede af deur op die prentjie regs te kliek. Die lêer is vir virusse geskandeer en is 13.7MB groot.
   
Demetrius, Nasia en Aldricht
Ons wens u 'n wonderlike naweek saam met u naastes toe. Groete, HSL
 
Geplaas op 21 Augustus 2017,10:37 
  Vandeesweek se waarde is lojaliteit. Baie dankie aan juffrou Prinsloo en die graad 10B-klas wat die waarde tydens vanoggend se saalgodsdiens behandel het.
Grondslagfase Konsert

Die konsert het op verlede Woensdag en Donderdag in die NG Kerk se saal plaasgevind. Die tema was Oppieplaas en die leerders het hul gate uit geniet. Baie dankie vir almal wat kom kyk het en die grondslagfase personeel vir jul ondelooflike harde werk en toewyding! 'n Paar foto's:
 
 
Wat sport betref, die volgende. Die laerskool rugby het uitgereën, maar die O-15, O16 en O/18 wedstryde teen Oakdale het plaasgevind. Die netbal het teen Shalom en LSS gespeel. Hierdie week speel ons teen EK Primêr.
'n Paar foto's van ander aktiwiteite by die skool:
Graad 11 Lewenswetenskap leerders besig om 'n varklong te dissekteer.
Marina Jacobs, Riancke Slump en Hidred Swart met 'n hidro-elektriese model. Hulle het dit self gebou. Water word in die bakkies gegooi wat die wiel laat draai. Dit draai weer 'n klein enjin wat 'n LED laat brand. Heel vernuftig!
 
Geplaas op 7 Augustus 2017,13:23 
 

Die week se waarde is integriteit. Kom ons vat hande en probeer die waarde vandeesweek voluit uitleef. Tannie Karien het verlede Saterdag verjaar - baie geluk! Mag die nuwe lewensjaar vol vrede en hoogtepunte wees. Jy is iemand na wie ons opkyk, al moet ons afkyk om jou te sien...

Die wenners van verlede kwartaal se dissipline-bekers was graad 5R en graad 8. As beloning het die skool hulle op 'n uitstappie na Steers getrakteer. Goeie samewerking word beslis raakgesien!

 
Graad 5R - die manne lê weg!
    Graad 5R
 
Graad 8's en juffrou de Villiers. Lekker, man. Lekker!

Ses leerders is gekies om tydens die September-vakansie 'n nasionale leierskap kamp in Tulbagh by te woon. Hulle is Liam Jordaan, Duvan Delport, Kimberley Blignault, Delrise Booysen, Monica Linderts en Marlena LeToulat. Baie geluk, julle! Dit is 'n besonderse groot eer!

Woensdag vanaf 9am tot 4pm word 'n toneelskool in die skoolsaal aangebied. Lede van die Goliath Davids toneelgeselskap kom spesiaal Ladismith toe om ons leerders aan die aspekte van 'n suksesvolle toneelstuk bloot te stel. Die geselskap gaan vanaf 19:00 'n professionele opvoering in die skoolsaal aanbied. Die verrigtinge begin om 19:00 en kaartjies kos R20.

Donderdag speel ons rugby en netbal teen Shalom.

Geniet u week!

Geplaas op 4 Augustus 2017,13:34 
 

Geagte ouers, leerders en vriende van HSL

Baie welkom by die derde kwartaal! 'n Uiters besige tyd lê voor, maar ons is slaggereed. Belangrike datums is op die kalender links aangebring - neem gerus kennis.

Die gebeurtenis waarna elke matriekleerder waarskynlik die meeste uitsien, nl. die matriekafskeid, het gisteraand in die skousaal plaasgevind. Die tema was Starry Night, met die fokuspunt Vincent Van Gogh se skildery met dieselfde titel. Die saal was sprokiesmooi... die graad 11's, het hulself oortref. Die aand het seepglad verloop en omstreeks middernag geeïndig. Wat die matrieks betref: elegant, stylvol, verruklik. Julle was die toonbeeld van volwassenheid en ons is ongelooflik trots op julle!

Die "backdrop": The Starry Night, oorspronklik deur Vincent van Gogh.
  'n Matriekafskeid, soos enige formele funksie, val nie uit die lug nie. Maande se beplanning word gedoen terwyl daar steeds volstoom onderrig plaasvind. Daarom wil ons graag die volgende persone bedank. Carien le Roux en haar span vir die ete - uit die boonste rak! Die graad 11 ouers vir al hul bystand, etes, rondryery gedurende die week - die lys is lank. Baie dankie!! Juffrou Prinsloo vir die verf van die fotohoekie en algemene versierings. Mnr Elie vir 'n pragtige toespraak - die leerders sal dit nog lank onthou! Die graad 11-klas vir hul volgehoue harde werk - when it mattered most, we could count on you. Respek. Aan Chevandré Willemse en Zay-Dee Mentoor - puik gasheer en -vrou!
Spyskaart.

Aan ons matrieks: weereens dankie dat julle so pragtig gelyk en opgetree het. Hoendervleis oomblikke!

Laastens: aan tannie Karien en mnr Dekker, die baasbreine. Hulle het die tema uitgedink, alle beplanning gedoen en mekaar en die leerders ondersteun. En tipies soos hulle is, is 2018 se aand reeds in wording... baie, baie dankie. Julle is yster.

Gedeelte van die saal
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017  |  hosting deur webafrica