tuis - jongste nuus

Buitemuurs K3 2018  |  Klasposisies K2, 2018 

 
 
Geplaas op 14 September 2018, 10:55  
 

Vervroegde skooldag

Geagte Ouers

Neem asseblief kennis dat die skool komende Maandag, 17 September, om 12:00 verdaag. Daar is heelwat personeel wat vergaderings moet bywoon. Tref asseblief u reëlings dienooreenkomstig.

Groete,
HSL

 
     
 
 

Gemeenskapskunstefees: terug(ver)voering

Hiermee dan terugvoering betreffende die gemeenskapskunstefees wat die afgelope naweek by die skool plaasgevind het. Deelnemers kon vir die volgende kategorieë inskryf: musiek (solosang, instrument, koor, spreekkoor), voordrag, lees, kuns en dans. In sommige kategorieë is meer as 60 inskrywings ontvang! Die dame in beheer, juffrou Anthea Jacobs, het haar adjudante vroeg vanjaar reeds by mekaar gemaak - almal was dus lank voor die tyd gereël en slaggereed vir die tsunami van talent. Vervolgens 'n paar foto's voor ons die wenners bekend maak:

 
HSL se dramagroep onder leiding van juffrou Griebelaar.
Excelsior Primêr ding in die koor-afdeling mee.
Linke Radyn straal selfvertroue tydens die dans-afdeling.

Die wenners in die onderskeie afdelings is as volg:

Musiek - Instrument: Linda Swart
Musiek - Solosang: Xaya Rose
Musiek - Spreekkoor: Towerkop Primêr
Kuns: Lisa Steyn
Voordrag: Kiyana Klink (Zoar EK Primêr)
Dans: Mirja Myburg (Shalom/Dansskool) en Angels of Praise (Dankoord)
Lees: Liam Rose

Ons bedank graag elke deelnemer, afrigter, deurwagter en ouer vir hul entoesiasme om die fees ten spyte van snerpende koue by te woon en 'n sukses te maak. Baie dankie ook aan mnr Elie wat die bedankings en oorhandigings hanteer het. Dankie aan die voorskoolse personeel wat die snoepie bestuur het (wat 'n gawe gedagte om wárm warmbrakke te verkoop!) en alle ander personeellede wat op een of ander manier betrokke was. Eers nog 'n paar foto's voor ons met die finale bedankings afsluit:

  Linda Swart en mnr Elie: beste instrumentale uitvoering (kitaar)  
Xaya Rose en mnr Elie: wenner in solosang-kategorie
Liam Rose en mnr Elie: wenner in lees-kategorie
Kiyana Klink (Zoar EK Primêr, hier deur haar afrigter verteenwoording) en mnr Elie: wenner in voordrag-kategorie
Lisa Steyn: wenner in kuns-kategorie
Mirja Myburgh (Dansskool/Shalom) en Angels of Praise (Dankoord): wenners van danstrofee

'n Baie groot blyk van waardering aan die beoordeelaars wat jaarliks 'n moeilike taak het om regverdige asook eerlike dog opbouende kommentaar en kritiek te lewer. Met soveel kwaliteit inskrywings rus baie verantwoordelikheid op hul skouers om telkens die waardige wenner aan te wys. Vanjaar was die volgende persone by die afsonderlike kategorieë betrokke:

Voordrag groep 1: Mev Nadia Myburg (Shalom)
Voordrag groep 2: Me Raydene le Roux (Kaapstad)
Dans: Mev Annalise Smith (George)
Musiek - alle items: Mnr Jean Dekker (HSL)
Lees: Me Gwen Francis (Towerkop, afgetree)
Kuns: Mnr Warren le Roux (LSS)

Die persoon wat die meeste lof moet kry, is mev Anthea Jacobs, die organiseerder. Jaarliks reël sy die fees - wat 'n ongelooflike werk! Om egter met haar saam te werk is 'n voorreg - jy weet net jy is deel van 'n wenresep. Baie, baie dankie!!

         
Geplaas op 7 September 2018, 10:55  
 

Gemeenskapskunstefees en Toetsreeks

Geagte Ouers

Graag herinner ons u aan die gemeenskapskunstefees wat môre, 8 September, by HSL plaasvind. By voorbaat dankie aan elkeen wat deelneem, alle opvoeders wat by die deelnemers se voorbereiding betrokke is, die ouers, die organiseerders, die beoordeelaars - ons is oortuig dit gaan 'n nóg groter sukses as verlede jaar s'n wees!

Dan begin die toetsreeks komende Maandag in alle erns. Die volgende tye en reëlings geld: die skool open om 07:30 en sluit om 13:00. Die leerders skryf aan die einde van die dag vanaf 11:25 tot 13:00. Skoolbywoning vir die VOLLE dag is verpligtend. Op 28 September moet die leerders om 09:30 vir saal aanmeld. Leerders wat sonder uitdruklike toestemming van die skoolhoof afwesig is, ontvang NIE hul rapport NIE.

Ons wens u kind alle sterkte met die voorbereiding toe. U ontvang vandag 'n nuusbrief met bykomende inligting - herinner asseblief u kind om die brief aan u te oorhandig.

Groete,
HSL

 
Geplaas op 4 September 2018, 16:09  
 

Verkeersdepartement se inisiatief

Verlede maand het Ladismith se verkeersdepartement gratis K53-handleidings aan ons matrieks uitgedeel. Die K53 is gewoonlik 'n redelike bron van spanning vir enige jongmens - dit is immers wanneer jy onder die wakende oog en diep frons van 'n verkeersbeampte moet uitpasseer... Baie dankie aan die department vir die ondersteuning wat julle ons leerders bied - dit word hoogs waardeer!

 
Geplaas op 31 Augustus 2018, 14:17  
 

Graad 7 markdag

Die graad 7's se markdag van vandag was 'n rasende sukses! Allerhande eetgoed is te koop aangebied en, soos belowe, was alle items R5 en goedkoper. Tyrique Bell het 'n "Wheel-of-Fortune" tipe speletjie aangebied wat baie gewild was - alles waar mens iets kan wen is mos gewild! Ons bedank graag juffrou de Wet wat die dag moontlik gemaak het. Dankie ook aan die graad 7's wat regtig baie moeite met hul stalletjies en kostuums gedoen het - die graad 6'e gaan moet uithaal en WYS om hierop te verbeter. Welgegaan!!

 
     
Geplaas op 28 Augustus 2018, 13:22  
 

Graad 7 markdag

Graag wil ons u (en die klante!) aan die graad 7 markdag van komende Vrydag, 31 Augustus, herinner. 'n Wye verskeidenheid eetgoed is beskikbaar (onder andere muffins, springmielies, vetkoek, roomys, brownies, fudge, droëwors en biltongwiele) en geen "item" is duurder as R5 nie. Voorts het ons dit goedgedink om lentedag op die 31ste te vier - 1 September is immers 'n Saterdag. Ons hou u op hoogte met die reëlings. Sterkte aan die graad 7-ouers!

 
Geplaas op 27 Augustus 2018, 12:32  
   

Jürgen Isaacs verwerf SWD-kleure

Op 25 Augustus het twee leerders, Jürgen Isaacs en Curtwin Pretorius, aan die volgende rondte proewe vir O.13 15-man rugby deelgeneem. Beide spelers het uitstekend gespeel met Jürgen wat die besonderse eer te beurt geval het om in die SWD A-span opgeneem te word. Wat 'n ongelooflike prestasie!

Baie geluk aan hom, sy familie asook die afrigters wat hom reeds sedert sy O.7 dae brei. Ons sien met groot verwagting na jou rugbyloopbaan uit, jongman!!

 
 

Pienkvoetjie-sportdag

Op Donderdag, 23 Augustus, het die O.7 en O.8 rugby- en netbalspanne van HSL, Towerkop en Shalom aan 'n sportdag vir die kleingoed deelgeneem. Juffrou Anthea se pragtige trompoppies het die verrigtinge geopen en op die kop 15:00 het die wedstryde afgeskop. Die tellings is as volg:

Rugby

O.7: HSL 15 - Towerkop 5; HSL 35 - Shalom 5
O.8: HSL 35 - Towerkop 5; HSL 20 - Shalom 10

Netbal

O.6: HSL 1 - Towerkop 0
O.7: HSL 3 - Towerkop 0
O.8: HSL 1 - Towerkop 3; HSL 4 - Shalom 1

 
Ons bedank graag die skole vir hul deelname, Zoar wat hul veld en bane beskikbaar gestel het, die skeidsregters, mnr Davids en die laerskool personeel vir die inisiatief en oorhoofse reëlings, juffrou Anthea, mnr Dekker vir die klank en tydhou, mnre Stefaan de Wit en Hendré Radyn wat met die vervoer van leerders en toerustig gehelp het en laastens aan die toeskouers wat die kannetjies ondersteun het. Ons sien uit na die volgende geleentheid!
 

40 Days

Kan u glo dit WAS alrééds 40 days? Dit is net ongelooflik hoe die tyd verbysnel. Op Vrydag, 24 Augustus, is die graad 12's die geleentheid gebied om hul stempel op hierdie bekende tradisie af te druk. Die vorige aand het hulle die klasse versier en, wel, "reggepak". Alles in 'n mooi gees! Op Vrydag is die verrigtinge om 10:15 afgeskop deur vanaf Huis Langenhoven na die rugbyveld te marsjeer. Daar het bykans die hele skool hulle ingewag. Op die maat van die Cha-cha slide treffer het 'n paar onderwysers hul staal getoon en saam met die matrieks gedans.

 
Daarna is 'n danskompetisie gehou om te sien wie die beste danspaar in graad 10 en 11 was. Speletjies in die vorm van eierhardloop en kruiwastoot het tot groot vermaak van die skare gelei. Na nog 'n paar passies en danse is die dag afgesluit. Ons hoop julle het die dag geniet. Mag julle nou in alle erns op die akademie fokus.
Geplaas op 21 Augustus 2018, 13:17  
 

Verkorte skooldag

Let asseblief op dat die skool môre, 22 Augustus 2018, om 13:30 sluit. Die opvoeders is môre-middag by GGBS-vergaderings betrokke. Alle periodes sal egter steeds gevolg word. Tref asseblief u reëlings dienooreenkomstig.

Dankie en groete!
HSL

 
   

Dit voorspel goeie dinge...

Op 16 Augustus het 'n groep laerskoolleerders aan die WOW-spel-fees te Oudtshoorn deelgeneem. Die reëlings is op kort kennisgewing deur juffrou Linda Radyn getref - sy het die leerders na Oudtshoorn vergesel.

Ons is trots om te berig dat Lisa Steyn, tans in Graad 6, na die distriksrondte, wat op 1 September in George plaasvind, deurgedring het. Pragtig en baie geluk!

 
Geplaas op 21 Augustus 2018, 11:24  
 

Netbal Sportdag: 16 Augustus 2018

Verlede week het HSL 'n netbal sportdag op hul tuisvelde aangebied. Alhoewel die wind aanvanklik redelik geniepsig was, kon dit nie die deelnemers se gees en entoesiasme demp nie. Vier skole het deelgeneem: HSL, Shalom, Towerkop en RP Botha. Mnr September was die serimoniemeester en het die verrigtinge met sy magsvermeningvuldiger laat vloei. Na 'n gebed deur Ditrige Roodman, het die eerste wedstryde afgeskop. Die uitslae was as volg:

Onder 13:

HSL 5, Towerkop 2; HSL 9, Shalom 2; Towerkop 9, Shalom 2

HSL word as die algehele wenners van die O.13 afdeling gekroon - baie geluk!

 
Die O-13 netbalspan saam met hul afrigter, juffrou Andrea Job.

Onder 14:

HSL 0, Towerkop 4

Towerkop word as die algehele wenners van die O.14 afdeling gekroon - baie geluk!

Die O-14 netbalspan van Towerkop.

Onder 15:

HSL 9, Towerkop 0; RP Botha 7, Shalom 11; HSL 4, Shalom 8; HSL 4, RP Botha 12;
Towerkop 3, Shalom 3

Shalom word as die algehele wenners van die O.15 afdeling gekroon - baie geluk!

HSL se O-15 netbalspan in aksie teen Towerkop.
Graag bedank ons alle rolspelers wat gehelp het om die dag 'n sukses te maak. Juffrou de Villiers verdien 'n spesiale woord van dank - dit was haar inisiatief en sy was vir die reëlings verantwoordelik.
Geplaas op 14 Augustus 2018, 10:58  
 

Zoar Dramagroep tree op

Komende Donderdag, 16 Augustus om 17:00, voer 'n dramagroep van Zoar 'n toneelstuk in die LO-saal van HSL op. Die titel van die opvoering is Agter Geslote Deure. Kaartjies is teen R5 beskikbaar en is by die skool te koop. Enige verdere navrae kan aan juffrou Griebelaar by 0727583990 gerig word.

 
   


Damesrugby

Een van ons huidige matriekleerders, La Rochelle Anta, presteer reeds geruime tyd in die wêreld van damesrugby - sy het byvoorbeeld reeds provinsiale kleure verwerf. Op Saterdag 11 Augustus, het sy aan die Youth Training Camp (YTC) in Kaapstad deelgeneem. Haar span het die eerste wedstryd teen Limpopo met 20 - 7 gewen en die twee stryd teen die Oos-Kaap met 17 - 12 verloor. La-Rcohelle het 'n drie in elke wedstryd gedruk.

 
Dit was dan haar laaste wedstryd as deel van die huidige jeugopset. Baie geluk met jou pragtige prestasies en dat jy 'n ware ambassadeur vir die skool was. Mag vele dogters jou voorbeeld volg! Sterkte met die res van die jaar!
   


Conray laat loop!

Gepraat van ons huidige matrieks: Conray Arnolds het homself stil-stil as 'n kranige skaakspeler en vasbyt-stapper gevestig. Die afgelope naweek het hy aan die Christelike Akademie se 9km "trail run" naby Stilbaai deelgeneem. Benewens die feit dat die organiseerders hom vir sy uitstaande gedrag geprys het, het hy boonop met die wennersmedalje weggehardloop. U het reg gelees - Conray het eerste geëindig. Wat 'n ongelooflike prestasie - BAIE geluk!! Mag vele letterlik in jou spore volg!

 
 
Geplaas op 8 Augustus 2018, 10:47  
 

Sport teen Albertinia

Die afgelope naweek het die O.9 en O.15 rugbyspanne sowel as die O.13 netbalspan aan 'n sportdag by Hoërskool Albertinia deelgeneem. Gemengde welslae is behaal, met veral die O.9's wat, ten spyte van 'n paar mooi drieë deur Frans UIthaler en Wayde Harker, hulself teen rotsvaste verdediging vasgeloop het. Die span kon egter drie wedstryde speel - beslis die moeite werd.

Wat die O.13 Netbal betref het dit aanvanklik moeilik gegaan met die spelers wat hul eerste wedstryd 1 - 8 verloor het. Daarna het dit algaande beter gegaan en is die span uiteindelik met 'n oorwinning van 8 - 4 in die vierde wedstryd beloon.

Die O.15-span het teen Hoërskool Albertinia te staan gekom. Uitstekende vaardighede, verdediging en aanvallende spel het tot vier drieë en een vervyf gelei. Ons het die wedstryd met 'n telling van 22 - 5 gewen.

Ons bedank graag die afrigters wat hul spanne vergesel het (mnre Willemse en Dekker en juff Job en de Villiers), die spelers en Hoërskool Albertinia wat die dag gereël het. Sien jul volgende jaar!

 
 

Net vir Pret besoek die skool

'n Groep jong volwassenes wat by maatskaplike werk onder skoolkinders in verál die Barrydale/Swellendam omgewing betrokke is, het die skool Maandag, 6 Augustus besoek. Die doel van die gesprek was om die gevare van dwelms en die effek van dwelmverslawing te bespreek. Armbandjies met noodnommers en Net vir Pret se slagspreuk - KEMOJA. I'm Fine! Without Drugs - is uitgedeel. Ons is die groep baie dank verskuldig vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen. Net vir Pret is 'n NRO en u kan hul webtuiste hier besoek.

 
Die groep.
Armbandjie met slagspreuk.
 

Netbal teen Hoërskool Heidelberg

Op Dinsdag, 7 Augustus, het drie netbalspanne van Hoërskool Heidelberg teen ons op ons tuisveld meegeding. Soos u weet neem ons die afgelope paar jaar klokslag aan Heidelberg se sportdag deel en was hierdie dus nog 'n geleentheid om ons bande verder te versterk. Wat die wedstryde betref, het Heidelberg oorwegend die oorhand gehad. Die O.14's het met 1 - 14 verloor en die O.19's met 7 - 24. Die O.15's, wat al hoe meer respek afdwing, het met 5 elk gelykop gespeel - baie mooi! Ons bedank graag juffrou de Villiers vir die reëlings, Hoërskool Heidelberg wat positief op die uitnodiging gereageer het, die spelers asook die toeskouers.

 
 

Vrouedag

Vandag is die hoërskool meisies toegelaat om, ter viering van Vrouedag, gewone klere teen geen koste aan te trek. Die matriekseuns het uit eie inisiatief 'n baie mooi gebaar ten toon gestel toe hulle, netjies uitgedos in formele wit hemde en strikdasse, blomme aan die matriekmeisies oorhandig het. Mag die waade van die vrou binne die moderne samelewing nooit gering geskat word nie.

 
Die manne bederf die asters.
 

Nuusbrief en Belangrike Datums

U kind ontvang vandag 'n nuusbrief met belangrike inligting en datums. Die datums verskyn ook op die kalender regs bo op die webtuiste. Nee asseblief kennis en vergewis uself van die aktiwiteite wat plaasvind. Geniet die langnaweek!

 
Geplaas op 3 Augustus 2018, 11:48  
 

Kannaland/Hessequa 15-man en 7's rugbyproewe

Op Dinsdag, 31 Julie, het 'n paar van ons rugbyspelers aan genoemde proewe te Calitzdorp deelgeneem. Twee HSL-seuns, Jürgen Isaacs (veelsydige voorspeler) en Curtwin Pretorius (binnesenter) is gekies om op 25 Augustus aan die SWD O-13 15-man proewe deel te neem. Baie geluk!

 
Curtwin Pretorius en Jürgen Isaacs
 

Sportuitslae - Week 3

Vandeesweek het ons teen Shalom netbal en rugby gespeel en baie goeie uitslae is behaal. Die netbaltellings: O.9 wen 13 - 0, O.10 wen 6 - 2, O.12 wen 20 - 0 en O.13 wen 8 - 1. Welgedaan! Wat die rugy betref, het die O.11's met 25 - 20 geseëvier. Geluk, manne!

 
 

Netbal teen Heidelberg

Op 7 Augustus toer Hoërskool Heidelberg na Ladismith met drie netbalspanne: die O.14, O.15 en O.18's. Wedstryde begin om 15:30. Kom ondersteun ons gerus!

 
 

Mandela-dag: Skenking van voedsel aan Heather's Home

Die voedselprojek van die Laerskool het betrekking. Die finale fase van die projek het op 27 Julie geskied met die oorhandiging van die kos. Die gebaar is baie positief ontvang - weereens baie dankie aan die laerskoolleerders en personeel vir die fantatiese inisiatief!

 
Die Laerskool VRL by Heather's Home.
Geplaas op 27 Julie 2018, 13:21  
 

Matriekafskeid 2018

Gisteraand het die aand wat vir vele jare 'n hoogtepunt op menige leerder se kalender is, aangebreek. Vanjaar se tema was Enchanted Forest. Voorbereidings het verlede jaar reeds 'n aanvang geneem en is in die nuwe jaar voortgesit. Vandeesweek was die graad 11's, onder leiding van tannie Karien, vir die verfraaiing van die skousaal verantwoordelik. Die groep was dit eens: werk agter die skerms is hárde werk! Die saal was pragtig en die aand heerlik - en hoe ongelooflik stylvol het die matrieks nie gelyk nie!

Om 'n funksie van gehalte te beplan verg nie die hande van een persoon nie. Ons bedank dus graag die volgende persone wat húl hande beskikbaar gestel het: Marietjie Toua, juffrou Schultz en juffrou Roné wat elke dag in die saal was, mnr Dekker vir die verf van die doek en algemene bystand, suster Cynthia Muller, haar suster Annalise en hul moeder wat die skoenlappers en blomme geknip het, die apteekpersoneel wat 'n geweldige klomp vouwerk gedoen het, Melite Jacobs wat gesorg het dat die graad 11 meisies se rokke betyds afgelewer is, Carine le Roux en haar span (Gerrie en Hestelle le Roux en Lammie, Agnes en Renier Jonker) vir die heerlike ete, Sipho en Karel vir hul alomteenwoordigheid en hande wat vir niks verkeerd staan nie, Stephanus Kotzé vir die beligting (en bedrading!), ons fotograaf, Sanet du Toit, a.o. Cederas vir die span van die versperrings en die reël van die verkeer, André Mouton en Jacques Smit vir die aflaai van die vrugtebome, Conray van Rooi en sy DJ-span en laastens die graad 11's wat aan hulself bewys het dat mens eintlik baie harder kan werk as wat jy soms dink jy kan. Baie dankie!!

Hierdie was waarskynlik tannie Karien se swanesang betreffende die reëlings. 'n Baie spesiale woord van dank aan haar. Deur die jare het sy sinoniem met styl en sjarme geword en het 'n reputasie verwerf van iemand wat 'n doodgewone tak na 'n reënwoud kon omtower. Die gewig wat haar klein postuur jaarliks gedra het laat diep spore agter. Jy is iemand na wie ons kan opkyk, al moet ons afkyk om jou te sien. Dankie.

 
Zay-Dee Mentoor, Hoofdogter en Rudi Bandjies, Hoofseun.
     
Geplaas op 26 Julie 2018, 13:21  
 

Besoek deur Wes-Kaap Noodgevalle College

Die skool het vandag besoek van die Wes-Kaap se nooddienste ontvang. Mnr Marcus Slingers, Koördineerder van die Emergency First Aid Respondents (EFAR), het die sessie gelei. Die sessies was grootliks op graad 11 en 12 leerders wat Wiskunde, Skeinat en Lewenswetenskappe neem gemik, maar die graad 9 leerders, wat binnekort vakkeuses moet maak, is genooi om die sessies by te woon. Mnr Stanley Van Rooi was ook teenwoordig.

Die leerders is, onder andere, ingelig oor wat 'n loopbaan in paramedici behels en wat die College hul bied.

 
Baie dankie aan EFAR vir die besoek - ons vertrou dat die belangstelling van die leerders tot loopbane binne hierdie uiters belangrike mediese veld sal lei. Dankie ook aan mnre le Roux en Dekker (verspreiding van inligting) en September (tegniese bystand) wil hul bydraes.
Aanbieding in die skoolsaal
Geplaas op 25 Julie 2018, 18:25  
 

Waarde van die week

Vandeesweek se waarde is Integriteit. Die matrieks was vir die behandeling daarvan tydens vanoggend se saalbyeenkoms verantwoordelik. In 'n week waar groot opgewondenheid jeens komende Donderdagaand se matriekafskeid heers, was dit goed om te sien dat hulle steeds die toewyding gehad het om vir saal voor te berei. Baie dankie, graad 12's!

 
 

Mandela-dag

Op 18 Julie het die Grondslag- en Intermediêre Fase hul deel vir Mandela-dag gedoen deur 'n insameling van voedselprodukte te organiseer. 'n Pragtige aantal grootliks nie-bederfbare produkte is bymekaar gemaak en gaan aan die veiligheidshuis Heather's Home geskenk word. Baie dankie aan al die GF- en IF-opvoeders vir die koördinering asook elke ouer/voog wat 'n bydrae gelewer het! Ons deel graag 'n paar foto's met u:

 
Mnr Davids en klein Garneth Mckenna.
Elke bietjie help - dankie!
Geplaas op 20 Julie 2018, 14:32  
 

Welkom by die derde kwartaal!

Ná 'n welverdiende verposing van drie weke, is die personeel terug in die tuig en slaggereed vir die kwartaal se uitdagings. 'n Relatiewe kort kwartaal (51 skooldae) waar ons matriekafskeid hou (26 Julie) en ook waar die matrieks hul rekord-eksamen in September aflê. Ons sien daarna uit om die reis met u en u kind mee te maak. Vervolgens 'n paar berigte.

 
 

Automation Tegnologie Winterskool

Tydens die vakansie is vier leerders, Jadon Hartman, Charna Matthysen, Herwin Beukman en Marinique Hendriks deur mnr le Roux na bogenoemde winterskool in Swellendam vergesel. Die leerders is aan aspekte van alle vorms van ingenieurswese blootgestel. Daar was drie kompetisies waarvan ons leerders twee gewen het! Eerstens moes hulle water vanuit 'n reservoir na drie kleiner reservoirs herlei (die uitdaging was om die kleiner reservoirs teen dieselfde tempo te vul) en tweedens moes hulle 'n robot programmeer om sekere instruksies uit te voer. Hul robot het 'n hindernisbaan in die kortste tyd voltooi. Baie geluk met jul pragtige prestasies en dankie dat julle die winterskool bygewoon het. Julle is ware ambassadeurs vir ons skool! Ook baie dankie aan mnr le Roux wat sy tyd op sy tipies onselfsugtige manier van doen vir die kinders opgeoffer het.

 
Die reservoir-kompetisie
 

Rekeningkunde Winterskool

Die doel van 'n vakgerigte winterskool is om spesifieke areas waarmee leerders mag sukkel te teiken en intensief aandag daaraan te skenk. Agt van ons matrieks het die geleentheid om hul Rekeningkunde-kennis tydens die vakansie te slyp, met beide hande aangegryp. Vir vyf dae is hulle in George deur kundiges onder hande geneem. Die leerders is dit eens dat die skool onskatbare waarde tot hul kennis en vaardighede bygevoeg het! Die staatmaker wat hulle na George vergesel het, was mnr Willemse - BAIE dankie!

 
 

ATKV Leierberaad

Drie van ons leerders, Delrise Booysen, Cylelin Hess en Liam Jordaan hetdie jaarlikse leierberaad te Goudini Spa naby Worcester bygewoon. Daar was agt sessies deur die loop van die week, met 'n nuwe spreker daagliks. Van die onderwerpe wat bespreek is was onderwys, sosiale media en entrepeneurskap. Soos dit altyd die geval met die jeugberaad is, was daar heelwat tyd vir ontspanning. Aktiwiteite soos driebeensokker, vlugbal en natuurlik in die warm water ontspan en die waterwurm aandurf was van die hoogtepunte. Juffrou de Villiers was vir die reëlings verantwoordelik - baie dankie! Dan ook GROOT waardering vir mnr Davids wat die leerders na Worcester en terug vervoer het.

 
Liam, Delrise, Cylelin en nuwe maters by die beraad
 

Gratis Wi-Fi

Die WKOD het onlangs hardeware installeer wat 'n wi-fi internetsein oor die skoolterrein uitstuur. Die leerders is verlede kwartaal met 'n gebruikersnaam asook wagwoord voorsien wat hul kan gebruik om gratis via die sein op die internet in te teken. Ons is ongelooflik opgewonde oor die moontlikhede wat hierdie tegnologie na die klaskamer bring. Die konsep van BJET (Bring Jou Eie Toestel) is die toekoms en ons is trots om 'n groot stap vorentoe in hierdie verband te neem. Die SBL sal binnekort 'n streng beleid vir die gebruik van die internet saamstel.

 
Leerders besig met die intekenproses.
 

Matriek Flashmob

Die matrieks van 2018 het die goedgedink om vanjaar hoedjies te laat maak, wat hulle tydens 'n imprompto danssessie ten toon gestel het. Hul 40 days kom nader en ons sien uit na wat hulle beplan...

 
The matricmob flashing their moves.
 

 

 
 

Ma'am Nel hits the bulls-eye

Our English teacher, mrs Annalize Nel, has recently been awarded her Western Province colours for darts. What an incredible achievement! Mrs Nel has long been part of the darts club in Calitzdorp and, after she moved to Ladismith, continued playing.

We are extremely proud of you - congratu-lations to you and your husband! One of these days you will earn that Springbok emblem...

 

Laerskool Ambassadeurs vir die week

Elke week word een leerder uit elke graad vanaf grade 1 tot 6 gekies as die ambassadeur van die klas. Die leerder wie hierdie eer te beurt val stel die beste voorbeeld in terme van akademie, goeie maniere, respek - die waardes van die skool dus. Vandeeweek se wenners pryk op die foto hieronder. Pragtig en baie geluk!

 
 
ontwerp / ontwikkelling / instandhouding:  d EX   |  kopiereg © hoërskool ladismith 2017 - 2018  |  hosting deur 1-grid