tuis - jongste nuus

Buitemuurs K4 2018  |  Klasposisies K3, 2018 

 
 
Geplaas op 7 November 2018, 08:53  
 

Kannaland Korefees

Op Dinsdag, 6 November, het die jaarlikse korefees in Ladismith se NG Kerksaal plaasgevind. Kore van HSL, EK Primêr, RP Botha, Excelsior en Towerkop het deelgeneem. Een van die aand se grootste hoogtepunte was die St. Moses blaasensemble. Hulle het drie maal opgetree en 'n verskeidenheid instrumentale items gelewer. Een van HSL se graad 10 leerders, Jaiden Roos, speel skuiftrompet in die groep.

Mnr Dekker is op kort kennisgewing gevra om as gasspreker op te tree. In sy toespraak het hy op die invloed wat musiek op die holisitiese ontwikkeling van 'n kind het, gefokus. Hy het voorts die klank behartig.

Die verrigtinge is omstreeks 21:15 met die sing van die volkslied (begeleiding deur die blaasensemble) voltrek.

'n Spesiale woord van dank aan kring 1 se KB, mnr Mias du Plessis, wat sy weg oopgesien het om die aand by te woon. Ook aan die organiseerders, juffrou Anthea Jacobs en haar graad R-koor wat HSL verteenwoordig het, alle ander deelnemers en afrigters. Dan bedank mnr Dekker graag vir Shane le Roux, ook 'n graad 10-leerder van HSL, wat gehelp het om alle elektroniese toerusting in 'n japtrap weg te pak.

 
Die St Moses blaasensemble. Jaiden Roos staan vierde van regs.
  HSL se Graad R-koor  
         
Geplaas op 1 November 2018, 15:26  

Hoërskool Prysuitdeling

Tydens die prysuitdeling van 31 Oktober het ongeveer 80 leerders pryse ontvang. Die nuwe VRL is ook aangekondig. Mnr Willemse het die verrigtinge geopen met Pastoor Moses (skriflesing en gebed) en meneer Morgan Ferus (gasspreker) wat die gehoor met hul boodskappe geboei het. Twee sang-items deur Sarie Roodtman, Jadon Moses en Rulermo Rademeyer het vir dawerende applous gesorg.

Ná afloop van die oorhandiging van die pryse, is die nuwe VRL deur mnr Elie aangekondig. In 'n pragtige gebaar is elke ouer die geleentheid gegun om sy/haar kind persoonlik geluk te wens en die erekode te oorhandig.

Mnr Steff Pietersen van die verkeersdepartement het daarna 'n kort uiteensetting betreffende 'n nuwe inisiatief tussen die skool en die departement gegee. Hierdie projek beloof om die leerders op 'n baie positiewe en kreatiewe wyse by algemene verkeersveiligheid in die dorp te betrek. Ons is baie opgewonde oor die projek en sal later meer besonderhede deurgee.

Die verrigtinge is met die sing van die skoollied afgesluit waarna die nuwe VRL en hul ouers saam met die opvoeders in die personeelkamer vergader het.

Die nuwe VRL sien só daarna uit (graad 8 tot 12): Conlia Arnolds, Heinrigd Sny, Chanté van Rooi, Luchen Radlof, Xander de Jongh, Abigail Riddels, Rulermo Rademeyer, Rudi Edwardes, Lauren Nt'selungu, Ruwayda Manuel, Janica du Plooy, Renecia Timmie, Liam Jordaan, Beaugan Rooi (hoofmeisie) en Cylelin Hess (hoofseun). Die VRL het vandag reeds vergader om die verskillende portefeuljes te verkies. Die uitslag is as volg:

Cylelin Hess (Voorsitter), Beaugan Rooi (Onder-voorsitter), Liam Jordaan (Tesourier) en Renecia Timmie (Sekretaresse). Baie geluk, Leerders! Dra jul balkies met trots!

Graag wil ons alle opvoeders wat kliphard agter die skerms gewerk het om die aand te laat realiseer bedank - julle weet wie julle is! Ouers, dankie vir al die energie wat u so onselfsugtig in u kinders stort - hul prestasies is aan u ook te danke. Ons deel graag 'n paar foto's.

Agter v.l.n.r.: Cylelin Hess, Ruwayda Manual, Rudi Edwardes, Liam Jordaan, Xander de Jongh en Janica du Plooy
Voor v.l.n.r.: Chanté van Rooi, Abigail Riddels, Conlia Arnolds, Lauren Nt'selungu, Rulermo Rademeyer, Renecia Timmie, Beaugan Rooi, Luchen Radlof en Heinrigd Sny
Portefeuljes: Cylelin Hess (Voorsitter), Liam Jordaan (Tesourier), Renecia Timmie (Sekretaresse) en Beaugan Rooi (Onder-voorsitter)
   
Hoofleiers 2019: Cylelin Hess (Hoofseun) en Beaugan Rooi (Hoofmeisie)
   
Gasspreker: Mnr Morgan Ferus
Sang-item: Sarie Roodtman, Rulermo Rademeyer en Jadon Moses
   
Mnr Steff Pietersen
Geplaas op 30 Oktober 2018, 09:57  
 

Leerder behaal Wes-Kaap kleure vir rugby

Tydens die naweek van 26 Oktober het drie leerders, Eknezel Moli, Patricia Farao en Melody Titus aan 'n sewes-rugbytoernooi in Kaapstad deelgeneem. Patricia het 'n barshou gespeel en is in die O-15 Wes-Kaap span opgeneem. Wat 'n ongelooflike prestasie - baie geluk! Mnr JD Willemse was vir die reëlings en vervoer verantwoordelik en ons bedank hom graag!

 
Eknezel, Patricia en Melody
     
Geplaas op 26 Oktober 2018, 11:40  
 

Beroepsdag

Vandag het die graad 7 tot 9 leerders die geleentheid gekry om, as deel van 'n LO-projek, beroepe waarin hul belangstel, uit te beeld. Hul kon ook hul gekose beroep met behulp van 'n uitstalling voorstel. Dankie aan Juffrou Griebelaar vir die reëlings! Kyk gerus deur die foto's - dit is omtrént 'n allegaartjie van loopbane! Die betrokke beroep word in die onderskrif genoem.

 
Professionele rugbyspelers: Tanesha, Alkeesha, Hailey, René en Renatha
Kaasmakers: Branigan, Leoreldon en Logan
Prokureurs: Monique, Johnica, Vivian en Sonja
Medici: Madeleine, Che-Patrick, Chleo, Sarie en Rozé
Maatskaplike Werksters: Anja, Sharné en Lizene
Fotograwe: Jesmine, Lissette, Eunice (die model) en Nicole
Speurders en wetstoepassing: Nathan, Rudi, Gereldo, Daniel en Ronwin
   
Medici: Uitstalling
   
Wetstoepassing: Uitstalling
   
Fotografie: Uitstalling
 

Graad 9 Fondsinsameling

As deel van 'n heelskool-projek om fondse in te samel, het die graad 9's, onder leiding van juffrou de Villiers, op die verkoop van lootjies besluit. Die prys wat gewen kon word, was "partytjie-kos": twee twee-liter gaskoeldranke, twee blokke sjokolade, twee pakkies lemon creams en twee pakke skyfies. Mnr Elie het die gelukkige nommer tydens pouse getrek. Die wenner is Delwyn Rooi, Tanesha Rooi se moeder - baie geluk! Sarie Roodtman het 'n kontantprys vir die meeste lootjies verkoop losgeslaan. Mooi so! In totaal het die klas 'n pragtige bedrag van R1500 ingesamel.

 
Tanesha Rooi en mnr Elie
Sarie Roodtman en Tanesha.
     
Geplaas op 23 Oktober 2018, 11:47  
 

FEDSAS Leierberaad

FEDSAS, die nasionale verteenwoordigende organisasie van beheerliggame in Suid-Afrikaanse skole, bied jaarliks kursusse vir die leiers van die toekoms aan. Die kursusse fokus spesifiek op skoolgaande leerders. Die kursusse stel ten doel om leerders beter toe te rus in terme van wat van leiers verwag word en die rol van die VRL in 'n skoolbeheerliggaam. Vanjaar se kursus is deur drie HSL-leerders bygewoon: Cylelin Hess, Delrise Booysen en Monica Linderts. Vanjaar was die venue die raadsaal van die Oudtshoorn Munisipaliteit. Leerders van verskeie skole het die beraad bygewoon insluitende Towerkop, Langenhoven Gim, Oudtshoorn Hoërskool, Môrester en Prins Albert.

Die verrigtinge is deur die burgemeester van Oudtshoorn, Raadslid Colan Sylvester, 'n oud-leerder van Bridgeton Sekondêr, geopen. Daarna het 'n joernalis van You en Huisgenoot 'n praatjie oor die uitdagings van die lewe gelewer. Mnr Fernando Tallie, tans die Adjunk-provinsiale Bestuurder (Wes-Kaap), het daarna op 'n meer persoonlike wyse met die leerders begin werk. Dit was verál Monica Linderts wat met haar opinies en deelname beïndruk het - sy is ook gekies om 'n kort onderhoud met een van die joernaliste te doen.

 
FEDSAS leerderberaad: leerders vergader in Oudtshoorn Munisipaliteit Raadsaal
Na afloop van die beraad, het elke leerder 'n sertifikaat ontvang. Hierdie sertifikate sal tydens die hoërskool prysuitdeling (31 Oktober) aan hul oorhandig word. Baie dankie aan juffrou de Villiers en mnr Dekker wat die reëlings behartig het.
 

Matrieks verlaat skool

Op 12 Oktober het HSL die matrieks van 2018 gegroet. Natuurlik is dit nie vaarwel nie - hulle moet immers eers hul finale eksamen aflê! - maar vir alle praktiese doeleindes is die matrieks klaar met lang ure in die skoolbanke. Volgens tradisie het die matrieks deur die skool beweeg en hul hemde laat teken. Daarna is hulle en die volle personeel na die saal waar hulle hul toekomsplanne met die opvoeders gedeel het. Die eed, wat jou bind om die NSS-eksamen op 'n eerlike wyse af te lê, is uitgedeel en onderteken. Na 'n paar addisionele administratiewe take is die matrieks na buite waar die skool 'n erewag gevorm het. Ons deel graag 'n paar foto's van die geleentheid:

 
  Rudi Bandjies, hoofseun en VRL-voorsitter, gevolg deur die res van die klas  
Mario Huisman, The Man of Steel. Vroeër vanjaar ook Meneer HSL.
Die klas van 2018.

Graag wil ons elke opvoeder wat betrokke was om die oggend te laat realiseer bedank. Die graad 9's verál was uiters knap. Matrieks: ons wens julle alle sterkte met die eksamen toe! Soos meneer Elie altyd sê, "Stay on the bus!"

 

Fondsinsameling: Laerskool

Die laerskool het dit goedgedink om 'n muntlegging te organiseer om sodoende geld in te samel. Die reënweer kon niemand se geesdrif demp nie (nie dat dit ooit weer sal nie - ons sê dankie vir elke druppel!) en die geleentheid is goed ondersteun. Ons deel graag 'n paar foto's:

 
Geplaas op 9 Oktober 2018, 11:47  
 

Welkom by die vierde kwartaal!

Geagte Ouers

Dit is aangenaam om u en u kind hartlik welkom te heet! Ons hoop en vertrou die kort verposing was aangenaam. Soos u weet is die vierde kwartaal 'n eksamen kwartaal - die leerders skryf dus oor die HELE jaar se werk. Gedurende die vakansie het aktiwiteite nie stilgestaan nie - ons skop die kwartaal af met die jongste nuus.

Seweweekspoort MTB

Vanjaar het 'n mooi aantal leerders, vanuit HSL asook ander plaaslike skole, vir die 29km ingeskryf. Die voedselmaatskappy Rhodes was vanjaar een van die borge en het gesorg dat die leerders met die nodige fietsryklere toegerus word. Baie dankie vir die inisiatief om fietsry onder die plaaslike gemeenskap te bevorder! Baie geluk ook aan De Villiers van Zyl, mede-eienaar van Vasco Meats, 'n bekende plaaslike besigheid, wat die eerste Ladismitter was in die 85km. Groot dank aan die hoofborg, Ladismith Kaas asook Dryland wat die reëlings getref het. Vervolgens 'n paar foto's:

 
Daniel Small en Rowan Timmie saam met ander plaaslike ryers. Uitrustings geborg deur Rhodes.
Conray Arnolds. Conray het die vorige aand ook aan die Trail Run deelgeneem.
Lisa Steyn
Meneer 682 - Rowan Timmie.
The little guy with the big heart - Daniel Small.
Valentino Rossi. Nee, nie regtig nie. Mnr Dekker en Scott.

Lenteskool

Tydens die vakansie is leerders die geleentheid gebied om addisionele onderrig in die volgende vakke te ontvang: Wiskunde (mnr Elie), Wiskundige Geletterdheid (mnr Willemse), Rekeningkunde (juffrou Schultz) en Fisiese Wetenskappe (mnr le Roux). Ons opregte dank aan (a) die betrokke opvoeders wat hul rustyd opgeoffer het om die leerders verder te slyp en (b) die leerders wat die geleentheid as 'n belegging in hul toekoms beskou het.

Gadimang Daniel Mokolobate

Op 13 September 2018 is mnr Mokolobate by 'n skool in Zeerust aangeval en het hy aan sy beserings beswyk. HSL se personeel het op 21 September grootliks swart aangetrek om sodoende hul meegevoel vir 'n kollega asook sy familie en kollegas en leerders te betoon.

Agter: Mnre le Roux, Dekker en juffrou de Villiers.
Middel: Mnr Willemse, juf Nel, juf van Tonder en juf Schultz.
Voor: Juf Job en mnr September.