Op Vrydag, 16 Oktober 2020, het die matrieks hul nommerdag gehad. Ons het vanjaar ekstra moeite met die funksie gedoen, veral aangesien die klas nie vanjaar 'n matriekafskeid het nie. Die skool het aan elke leerder 'n swart toga en 'n goue skouerband (in akademiese kleding die gradeband) voorsien. Mnr Elie het die verrigtinge geopen en juffrou Peceur het die skriflesing en gebed gedoen. Daarna het mnr Elie 'n toespraak gelewer. Die sentrale tema was Me, Myself and I - fokus die volgende twee maande slégs op jouself en die eksamen. Sarie Roodtman het 'n pragtige weergawe van Michael Masser se The Greatest Love Of All, gewild gemaak deur George Besson en verál Whitney Housten se opnames, gelewer. Mnr Smith het daarna voortgegaan om die eksamenreëls te behandel. Die eetgoed is deur Kanna Kombuis voorsien - baie dankie! Ons hoofseun en hoofmeisie, Jean Buys en Renecia Timmie, het twee toesprake gelewer en hul klasmaats sterkte toegewens. Volgende het mnr Dekker en mnr September die matrieks se toekomsplanne voorgelees. Die eed, waartoe elke leerder hom/haarself verbind om te alle tye eerlik te wees, is voorts afgelê. Vanjaar het ons dit goedgedink om die Wynand Steyl trofee vir die hardwerkendste leerder in matriek toe te ken. Vanjaar is dit aan Allison Isaacs toegeken - baie geluk!
Na 'n paar finale reëlings het die matrieks vanaf die saal na die paadjie en die tradisionele erewag beweeg. Die skoollied is gedreunsing. And then the fat lady sung. Graag wil ons elke opvoeder en leerder wat binne 'n baie kort tyd die saal verfraai en die reëlings getref het, bedank. Dit was 'n omtrént 'n groot spanpoging! Matrieks, ons weet 2020 was 'n groot teleurstelling op vele gebiede. Kom ons sluit dus die jaar op 'n hoogtepunt af. Maak jou boeke jou eerste prioriteit en volg die ABC-reël: Apply Bum to Chair! Ons is saam met julle! Voorts 'n paar foto's van die geleentheid. |